Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
AngloGold Ashanti lag al die pad na die bank
Die Mponeng-goudmyn wat AngloGold Ashanti aan Harmony verkoop het. Foto: Argief

Onsekerheid oor wat die toekoms vir die wêreld inhou, het die goudmynmaatskappy AngloGold Ashanti al die pad na die bank laat lag.

Dié maatskappy, wat vanjaar van sy laaste bedrywighede in Suid-Afrika onttrek het, se kontantinvloei het in die ses maande tot einde Junie $177 miljoen beloop. Dit is teenoor die kontantuitvloei van $31 miljoen ’n jaar gelede.

AngloGold het Vrydagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê $173 miljoen hiervan het boonop gedurende die drie maande tot einde Junie ingekom.

Die maatskappy het Vrydag sy resultate vir die ses maande tot einde Junie bekend gemaak.

Die groot rede vir die goeie invloei is die goudprys wat gedurende dié tyd die hoogte ingeskiet het.

Die goudprys het aan die begin van Januarie teen $1 510 per fynons verhandel. Teen einde Junie het dit reeds tot sowat $1 741 per fynons gestyg.

AngloGold sê in dié tydperk het geldeenhede in lande waar hy bedrywig is egter heelwat teenoor die dollar verswak. Dit beteken hy het in plaaslike valuta ’n baie beter inkomste verdien.

AngloGold is veral in Ghana, Mali, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Brasilië en Argentinië bedrywig.

goud

“Terwyl die onlangse lopie in die goudprys welkom is, sal streng koste- en kapitaalbestuur steeds die belangrikste fokusgebiede bly terwyl ons daaraan werk om reserwes te verhoog,” sê Kelvin Dushnisky, uittredende uitvoerende hoof van AngloGold, in die verklaring.

AngloGold sê gedurende die ses maande het produksie by sy myne met sowat 85 000 ons goud gedaal. Hy het verreweg die meeste hiervan (63 000 onse) by sy bedrywighede in Suid-Afrika verloor.

AngloGold het in Februarie aangekondig dat hy al sy bedrywighede in Suid-Afrika vir $300 miljoen verkoop. Dit sluit die Mponeng-goudmyn asook Mine Waste Solutions in.

Die maatskappy se wesensverdienste het met 236% tot $404 miljoen gestyg. Dit is teenoor ’n jaar tevore.

Wesensverdienste per aandeel beloop $0,97. Dit is teenoor die $0,21 ’n jaar gelede.

Netto skuld het met 18% tot $1,4 miljard gedaal.

AngloGold verhandel vroeg Vrydagoggend bykans 1% laer teen R558,93 op die JSE.

Meer oor:  Anglogold Ashanti  |  Goud  |  Goudprys  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.