Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
AngloGold maak weer wins
Werkers ondergronds besig by AngloGold Ashanti se Mponeng-goudmyn in Noordwes. Foto: Bloomberg

AngloGold Ashanti het weer ’n wins gemaak.

Die maatskappy wat deesdae net één goudmyn in Suid-Afrika bedryf, het ’n wesensverdienste van $85 miljoen oftewel $0,21 per aandeel vir die halfjaar tot einde Junie aangeteken.

Die maatskappy het sy jongste stel resultate Maandagoggend op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer.

’n Jaar tevore het hy nog ’n wesensverlies van $93 miljoen – $0,23c per aandeel – gely.

AngloGold sê die beter syfers is hoofsaaklik weens verbeterde bedryfsprestasie en die hoër goudprys.

Die gemiddelde goudprys van $1 310 per fynons wat hy verdien het was 6% hoër as wat hy in die ooreenstemmende halfjaar in 2017 verdien het.

Sy kontantvloei het ook verbeter na $51 miljoen wat gedurende die eerste helfte van 2018 bestee is teenoor die $161 miljoen van ’n jaar tevore.

Hy het sy skuldlas met 17% tot $1,786 miljard verminder teenoor die $2,151 miljard ’n jaar tevore.

Sy inkomste het egter met 5% tot $2,002 miljard gedaal.

Sy bedryfswins is $199 miljoen teenoor die verlies van $65 miljoen ’n jaar gelede.

Wins ná belasting is $43 miljoen teenoor ’n verlies van $165 miljoen.

Sy aangepaste verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) styg met 19% tot $723 miljoen teenoor ’n jaar gelede.

AngloGold het onlangs van drie van sy Suid-Afrikaanse goudmyne ontslae geraak. Moab Khotsong en Kopanang is verkoop en TauTona is gesluit.

Die maatskappy het nou net een goudmyn in Suid-Afrika: Mponeng in Noordwes.

Hy verdien net 13% van sy inkomste uit sy Suid-Afrikaanse bedrywighede.

Veiligheid

Drie van AngloGold se werkers is gedurende die eerste helfte van die jaar by die werk dood: twee in Suid-Afrika en een in Brasilië.

Die Suid-Afrikaanse goudmynbedryf word tans erg gekritiseer vir die hoë sterftesyfer, veral weens grondstortings weens seismiese aktiwiteit. Een van AngloGold se werkers is juis weens dié probleem dood.

Meer oor:  Anglogold  |  Anglogold Ashanti  |  Mynboubedryf  |  Jaarresultate  |  Mynbou  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.