Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
AngloGold se totale onttrekking uit SA wink
Die Mponeng-goudmyn. Foto: Wikipedia

Die wêreld se derde grootste goudprodusent is met die verkoop van sy laaste myn in Suid-Afrika oorgehaal om sy onttrekking uit die land te bewerkstellig.

AngloGold Ashanti het Maandag in ’n verklaring gesê die omsigtigheidsbesoeke deur die top-bieërs van sy Mponeng-goudmyn op die grens van Noordwes en Gauteng is nou afgehandel.

“Die proses om te desinvesteer is aan die gang en maak goeie vordering,” sê die maatskappy.

AngloGold se hoofnotering is op die Johannesburgse Effektebeurs, maar sal met die verkoop van sy laaste Suid-Afrikaanse bates na waarskynlik Londen of Toronto skuif, berig Bloomberg.

AngloGold het reeds in Mei aangekondig hy oorweeg om sy Mponeng-goudmyn te verkoop.

Volgens die goudprodusent hersien hy sy bates om eerder te fokus op meer winsgewende streke in Australië, Suid-Amerika en Wes-Afrika.

Volgens die maatskappy is dit ’n strategiese stap om sy portefeulje te stroomlyn, die toewysing van kapitaal te optimaliseer en sy fokus op gebiede met die grootste langtermyn-potensiaal vir waardetoevoegende groei te verhoog.

Die Mponeng-myn is meer as 4 km diep en tans die diepste myn ter wêreld.

Volgens die maatskappy kan die myn nog vir die volgende agt jaar goud lewer, maar sal beduidende investering benodig om sy leeftyd langer as dit te verleng.

Vir AngloGold is dit egter beter om dié soort belegging elders te doen.

Die maatskappy sê hy sal voor die einde van die jaar bekend maak hoe naby die proses aan afgehandel is.

Meer oor Mponeng

Werk aan die eerste skag by wat tóé as Western Deep Levels bekend gestaan het, het in 1981 begin en is in 1986 voltooi.

Die myn het in 1999 sy naam na Mponeng verander.

Hoewel dele van die myn meer as 4 km diep is, vind die meeste van die bedrywighede tussen 2 800 m en 3 400 m onder die oppervlak plaas.

Mponeng lewer goud teen sowat 9,91 g per ton erts wat gemyn word. Daar word gereken daar kan sowat 19,13 g per ton gemyn word, sou bedrywighede na dieper gedeeltes uitgebrei word.

Meer oor:  Anglo Gold Ashanti  |  Goudmyn  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.