Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Aurora-direkteur ‘kruip weg’, hofsaak uitgestel

Slegs drie uit die vier beskuldigdes in die hofsaak teen Aurora Empowerment Systems het Dinsdag in die streekhof in Springs verskyn. Die vierde “speel nog wegkruipertjie” met die polisie.

Khulubuse Zuma (middel) en Thulani Ngubane (regs), twee van die vier beskuldigde direkteure van Aurora Empowerment Systems, sit Dinsdag in die streekhof in Springs. Foto: William Horne

Só het ’n polisiebeampte op voorwaarde van anonimiteit die afwesigheid van Raja Alam Shah, wat na bewering oorsee is, verklaar nadat die hofverrigtinge afgehandel is.

Die polisiebeampte het bevestig dat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is, en hulle sal “dadelik weet as hy weer in die land kom”.

Die ander drie beskuldigdes, Khulubuse Zuma, ’n neef van oudpres. Jacob Zuma, Zondwa Mandela, ’n kleinseun van oudpres. Nelson Mandela, en Thulani Ngubane was Dinsdag in ’n ontspanne luim in die hof.

Hulle is nie gevra om te pleit nie.

Hulle is almal voormalige direkteure van Aurora, wat die Grootvlei- en Pamodzi-myn by Springs na bewering van al sy bates gestroop en 5 300 mense werkloos gelaat het.

Zuma self het ook eers Saterdag om 16:00 teruggekeer na Suid-Afrika, sê die polisiebeampte.

Betogers staan Dinsdagoggend voor die streekhof in Springs. Hulle betoog oor die 5 300 werkers wat by die Grootvlei- en Pamodzi-myn hul werk verloor het weens grootskaalse plundering en ná byna 10 jaar nog nie daarvoor vergoed is nie. Foto: William Horne

Dié direkteure staan tereg op vyf aanklagte teen hulle wat verband hou met omgewings- en waterbestuuroortredings by die Grootvlei-myn naby Springs. Al vyf aanklagte is hoofsaaklik gegrond op oortredings van art. 151 van die Nasionale Waterwet van 1998, asook oortredings van art. 94 van die Strafproseswet.

Die maksimum straf vir só ’n oortreding van die Waterwet is ’n boete of tronkstraf van tot vyf jaar, of albei.

Die beweerde wanbestuur en plundery van die Grootvlei-myn het glo gelei tot die verwydering van onder meer noodsaaklike pompe wat suur mynwater moes uitpomp.

Maar met die pompe wat weg is, het die mynwater in die Blesbokspruit uitgeloop. Dié spruit loop weer uit in die Vaalrivier, waar die hoogs toksiese suurmynwater oppervlak- en grondwater onbruikbaar kan maak.

Die maksimum straf vir só ’n oortreding van die Waterwet is ’n boete of tronkstraf van tot vyf jaar, of albei.

Weens die afwesigheid van Shah het adv. Lot Mgiba, staatsaanklaer, gevra dat die saak tot 15 Julie uitgestel word.

Adv. Pranav Jaggan, namens die beskuldigdes, sê dat die uitstel hom ook in staat stel om die “amptelike klagte te ontvang”, wat nog nie Dinsdagoggend beskikbaar was nie.

Mgiba sê die ekstra tyd sal sy span ’n kans gee om vas te stel of hulle Shah suksesvol sal kan dagvaar, en of die saak sonder sy teenwoordigheid sou kon voortgaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.