Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Aurora se Khulubuse Zuma gesekwestreer

Khulubuse Zuma, voormalige direkteur van Aurora Empowerment Systems en kleinneef van oudpres. Jacob Zuma, is Woensdag in die Durbanse hooggeregshof gesekwestreer.

Khulubuse Zuma, ’n neef van oudpres. Jacob Zuma.Foto: Argief

Die vakbond Solidariteit het dié stap verwelkom.

Dit kom nadat Zuma nie gehou het by ’n ooreenkoms om R12 miljoen as skadevergoeding terug te betaal wat die hof twee jaar gelede aan hom opgelê het nie. Dit was sy straf vir die roekelose bestuur van die Pamodzi-goudmyne.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê in ’n verklaring Zuma se sekwestrasie “beteken dat geregtigheid uiteindelik begin geskied vir die 5 300 Aurora-werknemers wat hul werk verloor het.”

Solidariteit het dié werknemers – wat sedert 2010 nie betaal is nie – ondersteun. Hulle het wel verlede jaar ’n eenmalige salaris ontvang.

Oorspronklik is R23 miljoen van Zuma geëis, maar hy het verklaar hy kon net R12 miljoen daarvan terugbetaal.

Altesaam R7 miljoen is van Bhana-familielede wat kamstig vir die myn gewerk het, geëis. Dié geld is terugbetaal. Daar word nog R5 miljoen van Fazel en Solly Bhana, pa en seun, as direkteure en raadgewers geëis.

Pamodzi is in 2009-’10 tydelik onder Aurora se toesig geplaas, maar die myn se bates is geplunder.

Du Plessis sê die sekwestrasiebevel beteken dat daar nou ’n volledige ondersoek kan plaasvind na al Zuma se sakebelange vanaf September 2009 tot die datum waarop hy as direkteur van Aurora aangestel is.

“Dít sal dan hopelik onthul wat van die nagenoeg R170 miljoen geword het wat by die myne verdwyn het, en ook wat Zuma se sakebelange in Afrika was of is.”

Daar sal ook ondersoek ingestel word of Zuma enige belange in Dubai – waar die omstrede Gupta-broers deesdae woon – het.

Intussen lyk dit waarskynlik dat Zuma se bates opgeveil sal word om sy skuld te delg.

Die opbrengs van die veiling kan hopelik aangewend word om van die voormalige Aurora-werknemers se agterstallige salarisse te betaal, meen Solidariteit.

Die sekwestrasie-aansoek vir nog ? voormalige Aurora-direkteur, Zondwa Mandela, kleinkind van Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela, sal in Februarie aangehoor word en die sekwestrasie-aansoeke teen die Bhanas is amper afgehandel.

Meer oor:  Aurora Empowerment Systems  |  Khulubuse Zuma  |  Zondwa Mandela  |  Jacob Zuma  |  Aurora  |  Mynbou  |  Goudmyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.