Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Baroda verwar deur 2 hofbevele oor myntrusts
’n Tak van Bank of Baroda in Indië. Foto: Bloomberg

Twee afsonderlike hofbevele om die bykans R1,7 miljard in die Gupta-myne Optimum en Koornfontein se rehabilitasietrusts te bewaar, verwar die Indiese Bank of Baroda.

Die bank, wat in die proses is om sy deure in Suid-Afrika te sluit, vra die partye betrokke by dié hofbevele om ooreen te kom watter bevel hy moet volg, anders sal hy Donderdag die hooggeregshof om ’n verklarende bevel vra.

Die eerste bewaringsbevel is verlede jaar aan die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) toegestaan.

Hy het gevra die geld moet in trustrekeninge by die Bank of Baroda gehou word.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid het egter verlede week ook ’n beskermingsbevel vir die geld bekom. Die NGV het gevra dat die geld na rentedraende rekeninge by Nedbank oorgeplaas word en dat Baroda binne 30 dae ’n volledige geskiedenis van alle transaksies op die rekeninge, asook enige ander dokumente wat daarmee verband hou, aan die direkteur-generaal van minerale bronne moet verskaf.

Gupta-verwante maatskappye wou die Bank of Baroda met ’n hofbevel keer om hom aan Suid-Afrika te onttrek, maar die hooggeregshof in Pretoria het dit Maandag van die hand gewys.

Lees hier: Bank van Baroda mag aan SA onttrek, sê hof

Dié maatskappye, asook die twee myntrusts, het juis in hul aansoek aangevoer dat onder meer die trustrekeninge ingevolge ’n vorige hofbevel nie gesluit mag word nie.

Baroda het aangevoer in beginsel gaan dit daaroor dat die geld nie die land moet verlaat nie, en nie dat dit spesifiek in ’n rekening by hom gehou moet word nie.

Tabacks Attorneys, Baroda se regsverteenwoordigers, sê in ’n brief aan die NVG, die trustees van albei die rehabilitasietrusts, die minister van minerale bronne, Nedbank en Outa dat die rekeninge sedert 26 September verlede jaar streng bestuur is ingevolge die hofbevel wat aan Outa toegestaan is.

Maar nou moet Baroda twee teenstrydige hofbevele gehoorsaam.

“Ingevolge die Outa-bevel moet ons kliënt die trustgeld in rekeninge by Baroda bewaar. Kragtens die bevel aan die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) moet ons kliënt die geld onmiddellik na Nedbank oorplaas,” skryf Tabacks.

Tabacks sê as hy aan die een bevel gehoor gee, oortree hy die ander een.

“Dit is duidelik dat ons kliënt nie aan albei bevele kan voldoen nie.”

Tabacks wys verder daarop dat Nedbank, deur wie sy transaksies voorheen gedoen is, van einde April af nie meer dié dienste aan hom gaan lewer nie. Nedbank wil hê Baroda moet aan hom bankbesonderhede gee van ander instellings waarheen hy Baroda se rekeningsaldo’s kan oorplaas.

“Dit lyk asof die NDOV probeer – en misluk het – om ’n curator bonis aan te stel. Ons neem aan dat Nedbank vooruit – sonder om aan enige van die vereiste prosedures teen geldwassery en kliënt-verifikasie te voldoen – ingestem het om wie ook al uiteindelik gemagtig word om die trusts te bestuur, as kliënt te aanvaar,” skryf Tabacks.

Ben Theron, uitvoerende hoof van Outa, sê hulle kry regsadvies oor of hulle die hof moet nader vir ’n verklarende bevel.

Hy sê Outa se belangrikste doel is om die geld uit die hande van die Guptas te hou en hulle is gewillig om met die batebeslagleggingseenheid saam te werk.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, sê egter daar is geen verwarring nie. Outa het ’n tussentydse bevel gekry en die NVG ’n finale bevel.

“Die geld sal na Nedbank oorgeplaas word. Hulle het die bevel ontvang en hulle sal die geld in bewaring hou,” sê hy.

Bygewerk uit Fin24

Meer oor:  Bank Of Baroda  |  Nedbank  |  Optimum  |  Outa  |  Guptas  |  Banke  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.