Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Begin van einde vir steenkooluitvoer

Suid-Afrikaanse steenkooluitvoerders sal moet vrede maak met die onafwendbaarheid dat die vraag vanuit hul groot uitvoermarkte gaan daal.

’n Uitsig op die Richardsbaai-steenkooleindpunt, waar die meeste van Suid-Afrika se steenkool uitgevoer word. ’n Klein hoeveelheid word ook via Maputo in Mosambiek uitgevoer.Foto: RBCT

Beleidmakers sal moet voorberei vir die oorgang weg van steenkool of hulle sal die maatskaplike en ekonomiese gevolge moet dra, waarsku Simon Nicholas, ontleder oor energiefinansiering van die Instituut vir Energie-ekonomie en Finansiële Ontleding (IEEFA).

Nicholas, medeskrywer van ’n verslag oor die vooruitsig vir Suid-Afrikaanse steenkooluitvoer, sê gegewe Eskom se steenkoolkragstasies wat ouer word en sal moet sluit, is die binnelandse verbruik van Suid-Afrikaanse steenkool ook op lang termyn aan die daal, so die binnelandse mark is nie veel van ’n alternatiewe mark vir die uitvoerders nie.

Tot dusver is Suid-Afrika se beste steenkool uitgevoer, en Eskom moet tevrede wees met swakker gehalte steenkool. Eskom kla egter toenemend dat die steenkoolgehalte wat verskaffers aan hom lewer al swakker raak. Dit sou in teorie ’n uitkoms vir Eskom gewees het as hy van die uitvoersteenkool kon koop.

Nicholas sê daar is min groeimarkte vir steenkool oor. Viëtnam is een van die groeimarkte, maar met China en Japan se steenkoolinvoer wat afneem, beteken dit Suid-Afrika sal met Australië en Indonesië meeding as hy sy steenkool na Viëtnam wil uitvoer.

Boonop het die bou van hernubare-energieprojekte in Viëtnam die afgelope 12 tot 18 maande versnel. Sonkragvermoë in Viëtnam het van Junie 2018 tot Junie vanjaar met 300% gegroei, wat impliseer Viëtnam se vraag na steenkool is ook nie eens so gewaarborg nie. Die bou van nuwe steenkoolkragstasies in Viëtnam word ook telkens vertraag.

Nuwe syfers in internasionale markte wys dat nuwe energietegnologie steenkoolkrag vinniger vervang as wat meestal voorspel is.

Teen 2030 sal nuwe wind- en sonkrag bykans oral in die wêreld goedkoper wees as bestaande steenkool- of gaskragstasies. Dit is reeds die geval in Indië, wat tot dusver die groot uitvoerbestemming vir Suid-Afrikaanse steenkool is, lui die nuwe verslag van die IEEFA, wat Maandag uitgereik is.

In 2018 het 48% van alle Suid-Afrikaanse steenkooluitvoer via Richardsbaai na Indië gegaan. Indië het egter ’n duidelike beleid dat hy sy afhanklikheid van steenkoolinvoer wil verlaag. In die eerste helfte van vanjaar het 60% van Suid-Afrika se steenkooluitvoer na Indië gegaan.

In die afgelope boekjaar het die uitbreiding van steenkoolkrag in Indië egter die stadigste in ’n dekade gegroei weens groot groenkragprojekte wat aan die gang gekom het.

Indië beplan nou om sy steenkoolinvoer teen 2024 met ’n derde oftewel sowat 85 miljoen ton te sny.

Pakistan, nog ’n groot uitvoermark vir Suid-Afrikaanse steenkool, is ook besorg oor die ekonomiese impak van steenkoolinvoer.

Suid-Korea is ook ’n groot koper van Suid-Afrikaanse steenkool, maar oorweeg om tot 20 steenkoolkragstasies te sluit sodat hy op lang termyn meer kan steun op gas en groenkrag.

Langtermynvooruitsigte lyk sleg

Tim Buckley, medeskrywer van die verslag en direkteur van energiefinansieringstudies by die IEEFA, sê groot mynmaatskappye besef nou toenemend die langtermynvooruitsigte vir termiese steenkool is treurig.

Internasionale mynreuse soos Rio Tinto, BHP, Anglo American en South32 het hulle al onttrek aan die mark vir seewaartse steenkoolverskeping of oorweeg dit.

Meer as 100 banke het nou beleid in plek wat hul lenings vir steenkoolprojekte beperk.

Nicholas waarsku Suid-Afrikaanse steenkooluitvoerders sal te staan kom teen mededingers uit Indonesië, Australië en Rusland in hul poging om alternatiewe uitvoermarkte te soek.

Die Richardsbaaise steenkooluitvoerhawe sit reeds opgeskeep met 20% ongebruikte vermoë, en hy sal dalk gewoond moet raak aan die idee dat ’n al hoe groter deel van sy jaarlikse uitvoerkapasiteit onbenut gelaat sal word, sê Nicholas.

“Die plan vir ’n alternatiewe toekoms moes reeds begin het.”

Meer oor:  Ieefa  |  Eskom  |  Uitvoer  |  Steenkool  |  Energie  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.