Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Beter goudprys help myne blom

Dit lyk of die mynbedryf die ergste impak van die Covid-19-inperkings oorleef het en selfs floreer, soos dit blyk uit die jongste resultate van Gold Fields, Sibanye-Stillwater en South32.

Gold Fields

Al het Gold Fields sy wins vir die jaar selfs skerp verbeter van die $343 miljoen in 2019 tot $878 miljoen in 2020, en daarby nog ’n slotdividend van R3,20 verklaar het, was beleggers nie ingenome nie en sy aandeelprys was Donderdag op die JSE effe laer op R130,06.

Gold Fields is ’n gediversifiseerde goudprodusent met myne in Australië, Ghana, Peru, Suid-Afrika en Chili. Sy totale dividend vir die jaar staan nou op R4,80 per aandeel.

Sibanye-Stillwater

Beleggers het beter gevoel oor Sibanye-Stillwater se jaarresultate. Sy aandeelprys was Donderdag 0,43% beter op R69,70. Sibanye sê sy styging in toeskryfbare wins van R62 miljoen in 2019 tot R29,312 miljard in 2020 is danksy groter diversifisering in sy produksie en ’n stewige herstel van die inperkings in Suid-Afrika.

’n Uitsig op ’n mangaanmyn van South32 in Suid-Afrika. Foto: South32

Sibanye kon sy aandeelhouers beloon met ’n slotdividend van R3,21 per aandeel.

Neal Froneman, uitvoerende hoof, verduidelik die herstel na normale produksievlakke ná die inperking het vooruitskattings oortref. Sowel sy goud- as platinumgroep-bedrywighede kon al teen November weer normale produksiekoerse haal.

Só kon die myngroep volle voordeel trek uit die skerp verbetering in die pryse van sowel goud as die platinumgroep-metale. Die gemiddelde goudprys in rand het oor die boekjaar met 43% tot R924 764 per kg gestyg, en die gemiddelde mandjieprys vir platinumgroepmetale het met 83% geklim tot R36 651 per ons.

South32

South32 se halfjaarresultate vir die ses maande tot einde Desember het wel nie ’n winsstyging behels nie, maar beleggers op die JSE was hom genadig en sy aandeelprys was Donderdagoggend 0,83% sterker op R30,30.

South32 se toeskryfbare wins het gedaal van $99 miljoen ’n jaar gelede tot $53 miljoen. Hy het wel ’n tussentydse dividend van 1,4 Amerikaanse sent per aandeel verklaar, wat 27% beter is as ’n jaar gelede s’n.

South32 ontgin ’n verskeidenheid minerale en metale, soos nikkel, mangaan, sink, silwer, lood, alumina, bauxiet en steenkool in Australië, Suid-Afrika en Suid-Amerika.

Die groep klink optimisties oor die lopende boekjaar, met Graham Kerr, uitvoerende hoof, wat sê hul netto kontant het reeds van $275 miljoen teen einde Desember tot $452 miljoen aan die einde van Januarie gegroei. Daar is ook ’n stewige herstel in vraag van markte buite China vir van South32 se kommoditeite.

Meer oor:  South32  |  Gold Fields  |  Sibanye-Stillwater  |  Mynbou  |  Goudmaatskappye  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.