Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Centaur wil geld vir Guptas se Optimum terughê
Aakash Garg Jahajgarhia, wat deur Thuli Madonsela as ’n direkteur van Centaur Mining in haar verslag oor staatskaping aangegee word, en sy vrou, Vega, dogter van Anil Gupta.

Centaur Mining, wat die Guptas gehelp het om vir die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyne te betaal, wil nou sy geld terughê.

Luidens die verslag oor staatskaping wat in Oktober 2016 deur Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, gepubliseer is, het Centaur R885,3 miljoen, oftewel 35,7% van die bykans R2,7 miljard koopprys van die myne betaal.

Centaur het nou ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin hy sê dat hy ’n regmatige krediteur van die Optimum-steenkoolmyn vir die bedrag van R768 194 056 is.

Hy kla dat die sakeredders wat op 19 Februarie by agt van die Guptas se maatskappye aangestel is, hom as “betwiste krediteur” in sy sakereddingsplan beskryf.

Hy kla ook dat die sakeredders nie die regte prosesse volg om die plan te laat goedkeur nie.

Dié plan is op 25 April gepubliseer.

Centaur sê die plan moet aangepas word en hom as regmatige krediteur vir die bedrag erken voordat alle krediteure wéér vir goedkeuring voorgelê kan word.

Louis Klopper, een van die sakeredders wat by die maatskappye aangestel is, sê dié hofsaak is net ’n manier om van hulle ontslae te raak.

“Centaur het die geld aan Tegeta Exploration and Resources gegee om die myn by Glencore te koop.

“Hy het dit dus nooit geld aan Optimum of Koornfontein geleen nie. Dit is hoekom hy nie ’n krediteur van die myne is nie,” verduidelik Klopper.

Tegeta is ook in sakeredding, maar die plan waaroor dit gaan, is spesifiek vir die Optimum-myn.

Gupta-skakels

Centaur Mining het direkte skakels met die Gupta-familie.

Madonsela skryf in haar verslag dat Aakash Garg Jahajgarhia een van die direkteure van Centaur is.

Hy is Anil Gupta se skoonseun.

Dit was juis sy troue met Vega, Anil se dogter, in Sun City wat ’n herrie veroorsaak het toe dit uitgekom het dat gaste toegelaat is om hul vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis te land.

Centaur het die name van al sy direkteure van sy webtuiste afgehaal.

Al wat nou onder die hofie “ons span” staan, is: “Ons glo dat kultuur innovasie, bestemming en sukses dryf. Om hierdie rede kies ons die beste mense vir die firma met omsigtigheid. Ons soek mense met ’n lus om te slaag en ’n passie om te dien; mense wat uitnemend is om ons onderneming en hul loopbane op lang termyn saam met ons te bou.”

Planne

Die sakeredders se plan vir die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyne is om dit te verkoop.

Klopper sê hulle het reeds verskeie ernstige navrae oor die myne gehad.

Die een groot voorwaarde waaraan die koper sal moet voldoen, is dat dit ’n Suid-Afrikaanse mynmaatskappy moet wees.

Die myne word tans deur Burgh Group Holdings (BGH) bestuur.

Klopper het op 10 April aangekondig dat die Britse maatskappy Vitol deur middel van BGH se Ezimiwayo Consulting ’n ooreenkoms gesluit het om 200 000 ton steenkool per maand van die Optimum- en die Koornfontein-myne via Richardsbaai uit te voer.

Die myne lewer ook steeds steenkool aan Eskom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.