Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Charles King hof toe oor Guptas se myne
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn.

Amin Al-Zarooni, die enigste direkteur van Charles King, wil keer dat sakeredders die Optimum- en Koornfontein-myn wat aan die Guptas behoort, verkoop.

Al-Zarooni het ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te keer dat enige van Tegeta Resources and Energy se bates verkoop word.

Tegeta besit die Optimum- en Koornfontein-myn, asook die Optimum-steenkoolterminus in Richardsbaai.

Charles King, ’n Switserse maatskappy waarvan Al-Zarooni die enigste direkteur is, het in Augustus 2017 ’n transaksie met die Guptas beklink waarvolgens hy Tegeta vir R2,97 miljard gekoop het.

Louis Klopper en Kurt Knoop, die twee sakeredders wat aangestel is om Tegeta en die betrokke myne te bestuur, het die transaksie sedertdien gekanselleer.

Dit kom nadat dit op die lappe gekom het dat Al-Zarooni nooit die volle deposito soos deur die ooreenkoms vereis is, betaal het nie.

Al-Zarooni weier egter om die kansellasie te aanvaar.

Hy sê enige dispuut moet deur die Arbitrasiestigting van Suid-Afrika opgelos word.

Luidens hofstukke is daar in Oktober R64 miljoen aan Tegeta betaal. Dit is R2,3 miljoen minder as die ooreengekome bedrag.

Al-Zarooni sê hy het probeer om dit te betaal, maar die geld is om die een of ander rede aan Charles King terugbetaal.

“Dit is goed om te weet dat Tegeta se destydse direkteure die betaling van die saldo binne die sperdatum en in hierdie verband afgewys het. Die partye het mondeling ooreengekom dat die tekort van R2,3 miljoen as deel van die finale saldo by die oordrag van die aandeelhouding betaal sou word,” lui Al-Zarooni se beëdigde verklaring.

“Charles King het onder hierdie omstandighede nie kontrakbreuk gepleeg nie en Tegeta het geen reg om die ooreenkoms te kanselleer nie.”

Ondersoek

Luidens hofdokumente ondersoek die Reserwebank die moontlikheid dat die transaksie van R64 miljoen nie aan

ruilbeheerregulasies voldoen het nie.

Bouwer van Niekerk, die prokureur van die sakeredders, het luidens hofdokumente verskeie kere gevra Charles King moet dokumente wat verband hou met goedkeuring deur die Reserwebank aan hom stuur.

Charles King en sy prokureurs het geweier om dit te doen.

Dit is nie die eerste keer dat Charles King ’n hofgeding teen die sakeredders begin nie.

Hy het voorheen aangedring dat hy as krediteur erken moes word op ’n vergadering deur ander krediteure om die sakereddingsplan vir Tegeta goed te keur.

Die sakeredders het Charles King toe wel as krediteur erken en hulle beplan glo om die R64 miljoen aan Charles King terug te betaal nadat die myne verkoop is.

Knoop sê in ’n beëdigde verklaring daar is geen dringendheid aan die aansoek nie, aangesien Charles King al maande lank weet dat die ooreenkoms gekanselleer is.

“Die dispuut duur al sedert April 2018. Dit is al vyf maande lank. Hierdie aansoek, wat stel dat dit dringend is, is ’n misbruik van verrigtinge en die reëls van hierdie hof,” skryf hy in sy verklaring.

Luidens Knoop se verklaring het Al-Zarooni en Charles King ook nie aan ander spertye voldoen nie.

“Die ooreenkoms bevat ses opskortende voorwaardes wat teen 31 Augustus 2018 vervul moes word,” verduidelik Knoop.

Die transaksie moes deur die volgende instansies en persone goedgekeur word:

1. die direksie van Charles King;

2. die Mededingingskommissie;

3. die minister van minerale bronne (dit is ’n vereiste kragtens art. 11 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne);

4. die Richardsbaai-steenkoolterminusmaatskappy (dat die terminus in Richardsbaai verkoop mag word); en

5. Eskom (steenkool word aan hom gelewer).

Daar moes ook ’n swart-ekonomiese-bemagtigingsvennoot, wat ’n belang van 30% in die maatskappy sou bekom, aangewys word.

“Daar is geen dispuut dat daar nie betyds aan hierdie vereistes voldoen is of dat dit tersyde gestel is nie,” sê Knoop.

“Aangesien daar teen 31 Augustus aan geen van hierdie vereistes voldoen is nie, is die transaksie nie meer van krag nie en het die aansoeker (Charles King) geen eis teen Tegeta nie.”

– News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.