Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
'Charles King-transaksie vir Guptas se Optimum ’n klug'
Glencore se Optimum-myn.

Die transaksie waarin die Switserse maatskappy Charles King die Guptas se Optimum-steenkoolmyn vir R2,97 miljard sou koop, was ’n klug.

Só sê Louis Klopper, die sakeredder wat in Februarie aangestel is by agt van die omstrede familie se maatskappye.

Tegeta Exploration and Resources het op 22 Augustus verlede jaar aangekondig dat hy die Optimum- en die Koornfonteinsteenkoolmyn, asook die Optimum-steenkoolterminusmaatskappy, aan Charles King verkoop het.

In die jongste ontwikkeling het Charles King ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien dat die verkoopstransaksie erken moet word in die sakereddingsplan wat op 25 April gepubliseer is, of dat die deposito van sowat R64 miljoen wat hy reeds betaal het, aan hom terugbetaal moet word.

Luidens die sakereddingsplan is die kooptransaksie met Charles King egter gekanselleer.

Die sakeredders stel voor dat Optimum verkoop word, onder voorwaarde dat dit aan ’n Suid-Afrikaanse maatskappy is.

Charles King sê in hofdokumente die sakeredders het nie die reg gehad om die transaksie te kanselleer nie.

Klopper sê egter benewens dat ’n sakeredder kragtens die Maatskappywet transaksies mag kanselleer as dit nie tot voordeel van ’n maatskappy in sakeredding is nie, word daar boonop nie aan verskeie voorwaardes van dié transaksie voldoen nie.

“Die hele transaksie met Charles King was ’n klug. Die doel daarvan was eintlik net om salarisse by Optimum en Koornfontein in September te kon betaal.

“Charles King wou nooit regtig die myn koop nie. Dit was net ’n front om geld uit die buiteland by die myne te kry,” sê Klopper.

Luidens die koopkontrak wat Charles King by sy hofdokumente aangeheg het, was drie van die vele voorwaardes vir die kooptransaksie:

  • Goedkeuring deur die Reserwebank;
  • Dat ’n deposito van R66,715 miljoen binne 60 dae nadat die transaksie onderteken is, betaal word; en
  • Dat Tegeta waarborg as die transaksie nie deurgevoer kan word nie, die deposito terugbetaal sal word.
Die hele transaksie met Charles King was ’n klug. Hy wou nooit regtig die myn koop nie. Dit was net ’n front om geld uit die buiteland by die myne te kry.
Louis Klopper

Charles King sê in sy beëdigde verklaring R64,406 miljoen is op 21 September aan Tegeta betaal. Hy wou die uitstaande R2,309 miljoen later betaal, maar Tegeta se bank het glo die oordrag afgekeur.

Klopper sê hierdie bedrag was glad nie ’n deposito nie, maar eerder die salarisse wat op 22 September aan Optimum en Koornfontein se personeel betaal is.

“Ons het bewys dat die geld op 21 September by die State Bank of India, waar Tegeta ’n rekening gehad het, inbetaal is. Ons het ook bewys dat bykans die volle bedrag die volgende dag as salarisse aan werknemers betaal is.”

Boonop is daar nié aan die voorwaardes van die transaksie voldoen nie:

  • Die Reserwebank het in ’n brief aan Tegeta geskryf hy het nooit kennis ontvang van die kooptransaksie of die oordrag van die geld na Suid-Afrika nie;
  • Die volle R66,7 miljoen is nie betyds betaal nie; en
  • Nie Charles King of Tegeta kan ’n afskrif van die skriftelike waarborg aan die sakeredders gee nie.

Klopper sê hy het op 28 Maart in Pretoria met Amin Al Zarooni, uitvoerende hoof van Charles King, en sy seun Saeed vergader.

Hy het die besonderhede gevra van hul plaaslike regsverteenwoordigers wat kwessies soos die oordrag van die mynregte en -lisensies en goedkeuring van die Mededingingskommissie hanteer.

“In daardie stadium was daar vyf maande oor waarbinne die transaksie volgens die ooreenkoms afgehandel moes wees. Hierdie prosesse duur gewoonlik minstens 12 tot 18 maande. As daar nie reeds met hierdie prosesse begin is nie, kan ek nie sien hoe dit nou binne vyf maande afgehandel gaan word nie.

“Hulle het nie dié besonderhede verskaf nie.”

Klopper sê Charles King se hofaansoek is niks anders as ’n poging om die sakereddingsproses tot stilstand te dwing nie.

“Ons het die vergadering van 8 Mei waar krediteure oor die sakereddingsproses moes stem, uitgestel.

“Dit gee ons nou die geleentheid om in die hof te bewys ons planne vir Optimum voldoen aan alle vereistes.”

Klopper sê hy is vol vertroue dat Charles King nie in die hof sal slaag nie – nie om erkenning vir sy kooptransaksie te kry of dat die deposito aan hom terugbetaal moet word nie.

Daar is belangstelling om Optimum en Koornfontein te koop, maar geen vordering kan hiermee gemaak word voordat die sakereddingsplan goedgekeur is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.