
Chris GriffithFoto: Argief
Chris Griffith, uitvoerende hoof van Anglo American Platinum (Amplats), roep dié maatskappy na sewe jaar vaarwel.
Die maatskappy het vroeg Maandagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê dat Griffith bedank het om “ander geleenthede na te volg”.
Griffith sal op 16 April ná die maatskappy se algemene jaarvergadering die tuig neerlê. Amplats sê hy sal ’n nuwe uitvoerende hoof uit eie geledere kies.
Griffith het 30 jaar lank by Anglo American gewerk.
“Ná meer as sewe jaar aan die stuur en gegewe alles wat ons as ’n span bereik het, is dit nou die natuurlike tyd vir die volgende generasie van leierskap om hierdie onderneming vorentoe te neem en verdere waarde toe te voeg,” sê Griffith.
“Ek wil my bestuurspan, die senior bestuur en alle werknemers van Anglo American Platinum bedank vir hul harde werk, toewyding en ondersteuning wat hierdie wonderlike maatskappy gebring het waar dit vandag is.”
Amplats se aandele het onmiddellik nadat verhandeling begin het, met meer as 2% op die JSE tot R1 231,01 gedaal. Dit het kort daarna weer tot R1 273,83 per aandeel herstel.