Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Creecy keur planne vir Anglo-myn af

Anglo Operations, Canyon Coal en die departement van minerale bronne het bloedneus gekry toe Barbara Creecy, minister van omgewing­sake, bosbou en visserye, die omgewingsgoedkeuring vir ’n reuse-oopgroefsteenkoolmyn buite Springs verwerp het omdat dit ’n belangrike landbougebied is.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye.

Dít kom nadat ses gemeenskaps- en bewaringsgroepe en ’n enkeling appèl aangeteken het teen die departement van minerale bronne se omgewingsgoedkeuring van die beoogde Palmietkuilen-steenkoolmyn.

Gemeenskapslede het gister gesê hulle is in hul noppies met Creecy se besluit en dat hulle langer as drie jaar teen dié beoogde myn se planne geveg het.

Anglo Operations het op 4 Augustus 2016 namens Canyon Coal by die departement van minerale bronne se streekkantoor in Gauteng aansoek gedoen om ’n oopgroefmyn op 201,9 ha tussen vleilande, vyf panne, mielielande en woonbuurte te begin.

Die myn sou stroomop van die Blesbokspruit by Ashton Lake geleë wees en sou volgens sy impakstudies vir byna­ 50 jaar maandeliks sowat 200 400 t steenkool lewer.

Die departement van minerale bronne het op 5 Maart vanjaar omgewingsgoedkeuring vir die myn aan Anglo Operations gegee.

Hierna het die Grootvallei Blesbokspruit Bewaringstrust, die Ashton Lake­-gemeenskap, die Wildlife and Evironment Society of South Africa en Rossouw Pluimvee Beherend appèlstukke opgestel en aan Creecy gestuur.

Luidens Creecy se beslissing het sy die appellante se besorgdheid, asook dié van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in ag geneem toe sy besluit het om die omgewingsgoedkeuring vir die beoogde myn te verwerp.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op 25 September vanjaar gesê­ die beoogde myn val binne ’n voorgestelde bewaarde landbougebied en dat hy (die departement) dié gebied as “besonder belangrik vir landbou” beskou.

Een van die grootste bedreigings vir die behoud van landbougrond is die konflik tussen landbou en mynbou.

Creecy sê die hulp van haar departement is ingeroep en die afdeling vir grondgebruik het vasgestel die beoogde gebied is van besondere sensitiewe landboubelang.

Sy sê sy het die belange van sowel mynbou as landbou teen mekaar opgeweeg en besluit dié van landbou weeg die swaarste. “Terwyl ek daarvan bewus is dat mynbou maatskaplike voordele bring, meen ek dat dít nie groter en belangriker as dié van landbou is nie. Die gebied word reeds geslagte lank vir landbou gebruik en dit kan só voortgaan solank die grond nie versteur word nie.

“Een van die grootste bedreigings vir die behoud van landbougrond is die konflik tussen landbou en mynbou.”

In haar antwoord beklemtoon Creecy­ die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) benadruk die konsep van volhoubare ontwikkeling. “Nema­ se belangrikste vereiste is dat mense en hul behoeftes by omgewingsbestuur voorrang geniet.”

Volgens haar het sy alle inligting tot haar beskikking gebruik om tot die beslissing te kom. Verskeie besoeke ter plaatse is ook aan die gebied gebring.

Creecy beklemtoon dit dat sy as minister van omgewingsake, bosbou en visserye die mag het om appèlsake aan te hoor en ’n beslissing daaroor te maak.

Volgens haar staan dit Anglo Operations en Canyon Coal vry om die hof te nader sodat haar beslissing hersien kan word.

Dit is nie in dié stadium duidelik wat Anglo en Canyon Coal beplan nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.