Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
De Beers moet Groot-Marico se water uitlos

Die diamantmynreus De Beers is sy magtiging kwyt om in die Groot-Marico-gebied in Noordwes te prospekteer. Dit volg nadat die Mmutlwa wa Noko-gemeenskapsorganisasie gekla het mynbedrywighede hier sal die gebied se water bedreig.

Die diamantmynreus De Beers is sy magtiging kwyt om in die Groot-Marico-gebied in Noordwes te prospekteer.

Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag De Beers se magtiging om vir kimberliet (rots waarin diamante voorkom) op die plase Modderfontein, Wonderfontein en Vergenoegd te prospek­teer tersyde gestel. Die departe­ment van minerale bronne se Noordwes-streeksbestuurder vir minerale regulasies het in 2016 die omgewingsmagtiging onder die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) verleen.

Mmutlwa wa Noko, wat die Groot-Maricorivier se opvangsgebied wil bewaar, het teen die besluit geappelleer. Mmutlwa wa Noko sê in hofstukke mynbedrywighede kan skadelik vir ekostelsels wees en dit ondermyn mense se grondwetlike regte.

Die organisasie sê De Beers se aansoek was vir die Groot-Marico-Ooggebied, wat ’n ondergrondse laag waterdraende dolomietklip het. Die Oog is die hoofwaterbron van die Groot-Marico­rivier en uiteindelik die Limpo­porivier. Die magtiging is ná die wetlike spertyd verleen en dus ongeldig. De Beers se openbare deelname-proses het ook nie aan Nema voldoen nie, lui hofstukke.

Die magtiging is ook verleen sonder dat die belanghebbende partye se besware daarteen “eens gelees is”, word beweer.

Jeanne Kemack, sekretaris van Mmutlwa wa Noko, sê in ’n hofverklaring hulle is slegs gekant teen De Beers se prospektering in die Groot-Marico-gebied, nie in die nabygeleë Swartruggens- en Mabaalstad-gebied nie.

Die Groot-Maricorivier is ’n strategiese waterhulpbron. Die dolomiet-oë het verseker dat die rivier in die afgelope drie jaar se droogte kon vloei en die dorp Groot-Marico van water voorsien.

Die opvangsgebied is as ’n nasionale varswater-ekostelsel-prioriteitsgebied verklaar. Dis ryk aan waterbiodiversiteit en amper bedreigde visspesies kom hier voor.

Kemack sê die prospekteergebied is net stroomop van die dorp en “inmenging by die watervoorsiening sal ’n hoë impak op die dorp en (die aangrensende woonbuurt) Reboile hê”.

Sowat 100 000 mense wat stroomaf woon, is direk afhanklik van die rivierwater vir hul landerye en huishoudings. Talle kommersiële plase moet water hieruit put, soos die Madikwe Groot Vyf-wildreservaat. Ook Gaborone, Botswana se hoofstad, moet ingevolge die internasionale Tswasa-ooreenkoms water kry.

Kemack sê De Beers het nie aangedui waar onder die prospekteergebied die waterdraende klip is nie. De Beers se aanvanklike agtergrondinligting het gesê grond- en oppervlakwater-aantasting is moontlik. Kemack sê dít alleen moes genoeg gewees het om die magtiging te weier.

Die hof het kostebevele teen die departement van omgewingsake en van minerale bronne opgelê. Omgewingsake het nie ’n eedsverklaring by die hof ingedien nie. Minerale bronne het wel kennis gegee hy staan die aansoek teen, maar dit toe teruggetrek. De Beers het nie gesê hy staan die aansoek teen nie.

Meer oor:  De Beers  |  Mynbou  |  Omgewing  |  Water  |  Mynregte  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.