Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
De Beers: Verkope van diamante tuimel met derde

Die diamantgroep De Beers het in sy jongste verkoopsiklus, die agtste een vir 2019, net $295 miljoen se diamante verkoop.

De Beers verkoop diamante tien keer per jaar aan sowat 80 kopers by sy sighouerverkopings wat in Gaborone, Botswana, gehou word. Foto: Argief

Dit is 39% minder as ’n jaar gelede, het De Beers Donderdag op die JSE se Sens-nuusdiens aangekondig.

Dit is die jongste in ’n reeks swak verkope, want kopers is bekommerd hulle gaan nie genoeg geld maak met die ongeslypte diamante nie.

De Beers se verkope tot dusver vanjaar is al meer as $1 miljard minder as in dieselfde tyd verlede jaar. Daar is nog twee verkoopsiklusse vir die jaar oor.

De Beers, ’n afdeling van Anglo American, verkoop sy diamante in Gaborone, die hoofstad van Botswana. Die kopers of sogenaamde sighouers moet oor die algemeen die prys en hoeveelhede diamante wat aangebied word aanvaar of weier.

Sighouers kry ’n swart en geel houer met plastieksakke vol diamante.

Die aantal houers en die gehalte van die diamante hang af van die jaarlikse toekenning waarop die koper en De Beers ooreengekom het.

Vanjaar is kopers toenemend gefrustreerd met die koste van ongeslypte diamante wat De Beers te koop aanbied nadat die pryse van geslypte diamante afgeneem het.

Dit het tot baie dun winsmarges vir die kopers gelei, en in sommige gevalle het diamantkopers verliese gely op die diamante wat van De Beers en sy Russiese mededinger Alrosa gekoop is.

Die probleme in die diamantbedryf spruit uit ’n ooraanbod van geslypte diamante wat tot skerper dalings in pryse as vir ongeslypte diamante gelei het.

Handelaars, diamantsnyers en diamantslypers word terselfdertyd onder druk geplaas deur valutaskommelings en banke wat traer is om geld uit te leen.

De Beers se reaksie was om kopers toe te laat om die helfte van die diamante in elke aangebode pakket van die hand te wys, en om sommige diamante teen gunstige voorwaardes aan die maatskappy terug te verkoop, volgens mense wat die bedryf goed ken.

Bruce Cleaver, uitvoerende hoof van De Beers, het Donderdag gesê De Beers het in die afgelope verkoopsiklus weer buigsaamheid aan kopers gebied in aanloop tot die tradisioneel stiller tyd in die jaar vir die diamantbedryf tydens die Diwali-vakansie in Indië. Benewens Amerika en China is Indië een van die groot diamantmarkte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.