
Geslypte diamante.
Reuters
Die dae toe diamanthandelaars na Botswana moes reis om diamante by tradisionele verkopings of sights te koop, is verby.
Lucara Diamond, ’n mynmaatskappye wat diamante in Botswana ontgin, het pas ’n digitale platform geskep waar diamante gekoop kan word.
Handelaars kan bowendien op dié platvorm slegs die stene koop wat hulle wil hê.
Die tradisionele gebruik is dat handelaars ’n heel mandjie diamante moet koop waarin die betrokke steen is wat hulle wil hê.
Die stene wat hulle nie self gebruik nie, moet hulle dan weer aan ander handelaars of juweliers verkoop.
“Juweliers kan nou vir die eerste keer net koop wat hulle wil hê sonder om die ekstra voorraad te koop,” sê Eira Thomas, uitvoerende hoof van Lucara in ’n onderhoud met Bloomberg in Stockholm, Swede.
“Die groot geïntegreerde juweliersmaatskappye wil nie by sekondêre handel betrokke wees nie. Hulle probeer net diamante vir hul eie produkte koop.”
Lucara sê hy wil nou ander, kleiner diamantmaatskappye oortuig om sy platform met hom te deel.
Die platform, wat as Clara bekend staan, gebruik blokkettingtegnologie.
Of Lucara dit gaan regkry om groot produsente te oortuig om sy stelsel te gebruik, sal nog gesien moet word.
De Beers, die wêreld se grootste diamantprodusent, is bekend vir sy stewige beheer oor die diamantmark en het reeds jare lank sy eie stelsel van hoe hy stene verkoop.
“As ons $1,5 miljard se handel op die platform kan genereer, sal die kontantvloei wat ons van Clara genereer, net soveel wees as wat ons van die myn genereer,” sê Thomas.
“Tans neem ons babatreetjies. Ons sal elke kwartaal verslag doen. Ons verwag volumes sal toeneem,” sê Thomas.
Ola Södermark, ’n ontleder by Kepler Cheuvreux, meen Lucara produseer nie self genoeg diamante om die platform winsgewend te maak nie.
“Die vraag is of hulle te vroeg is met hierdie tegnologie en of die mark gereed is daarvoor of nie,” sê sy.
Blokketting
Lucara is nie die eerste diamantprodusent wat blokkettingtegnologie gebruik nie.
De Beers gebruik dit reeds ’n geruime tyd vir sy Tracr-platform.
Dié platform word gebruik om die naspeurbaarheid van diamante te verhoog. Sogenaamde bloeddiamante word dikwels gebruik om militante groepe te finansier.
Deur blokketting te gebruik, kan daar gesien word of ’n steen van ’n erkende myn afkomstig is of nie.
– Bloomberg, verwerk