Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Eerder goud as goudaandele soos myne sluit
Werkers kyk na die vloei van gesmelte goud vanaf ’n smelter om 28 kg-goudstawe te skep in die gietery by die South Deep-goudmyn, bedryf deur Gold Fields. Foto: Getty Images

Die mynboubedryf sit oorgehaal om saam met die res van Suid-Afrika Donderdag te sluit, maar dis nie net slegte nuus vir beleggers nie.

Nedbank het Woensdag in ’n nota aan beleggers gesê die drie week lange staat van inperking sal beslis ’n wesenlike impak op goud- en platinumproduksie hê.

Mynmaatskappye kan verwag dat hul waardasies gaan verklein, asook dat hul kontantvloei swaar getref gaan word deur drie weke met afgeskaalde produksie.

Maar Nedbank sê daar is wel ’n bietjie hoop vir die maatskappye, veral vir dié wat reeds grootliks na die buiteland gediversifiseer het.

Goud- en platinumpryse gaan volgens Nedbank vanweë veral die verlaging in voorraad weens die sluiting ’n hupstoot kry wat maatskappye sal ondersteun wanneer produksie hervat word.

Die kunsmatige tekort op wêreldmarkte kan egter vergroot indien ander mineraalryke lande ook ’n staat van inperking aankondig wat buitelandse bedrywighede ook sal laat sluit.

“Ons wil dalk nie nou goudaandele hê nie, maar die metaal self is iets waarin ons sal wil belê,” sê Nedbank.

AngloGold en Gold Fields is vanweë hul groot bedrywighede in die buiteland tans die beste uit die goudprodusente geposisioneer om die staat van inperking met so min as moontlik skade te trotseer.

Gold Fields het slegs een myn, South Deep, oor in Suid-Afrika.

Uit die platinumprodusente is Sibanye-Stillwater volgens Nedbank in die beste posisie omdat hy 30% van sy platinumbedrywighede reeds in die buiteland het.

Die mynmaatskappy het Woensdag in ’n verklaring gesê dat die staat van inperking hom steeds swaar gaan tref.

Sibanye waarsku dat sy vooruitskattings van produksieteikens waarskynlik heelwat gaan verander weens sy gedwonge sluiting.

Die volgende mynmaatskappye het reeds bevestig dat hulle hul besighede gaan sluit, maar wel beperkte aktiwiteit gaan toelaat om die myne te onderhou gedurende die staat van inperking:

  • Sibanye-Stillwater
  • AngloGold Ashanti
  • Implats
  • Gold Fields
  • Harmony Gold
  • Anglo American

Die mynwerkersvakbond NUM het Woensdag in sy eie verklaring gesê hy sal alle byeenkomste en aksie opskort te midde van die pandemie en die staat van inperking. Hy ondersteun ook die myne en regering se besluite om nie meer werk toe te gaan nie.

Oor die paar werkers wat nodig sal wees om myne te onderhou vir die volgende drie weke sê die NUM hy is tevrede solank myne veilige vervoer verskaf en ander maatreëls in plek sit om te verseker dat dié werkers nie blootgestel word aan Covid-19 nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Mynbou  |  Koronavirus  |  Mynboubedryf  |  Covid-19  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.