Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Enorme wins vir Kumba danksy swak rand, duur erts
Kumba se Sishen-ysterertsmyn.

Die swak rand en duur ystererts is hoekom Kumba Iron Ore ’n enorme wins van R21,3 miljard gemaak het in die jaar tot einde Desember 2019. Dit is 62% hoër as ’n jaar gelede.

Die maatskappy het vroeg Dinsdagoggend sy resultate bekend gemaak.

Dié filiaal van Anglo American sê in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat die $97 per ton gemiddelde prys wat hy in 2019 vir ystererts verdien het, 35% hoër was as ’n jaar tevore. Boonop was die wisselkoers van die rand teenoor die dollar op R14,35 9% laer as in 2018 wat beteken het dat Kumba selfs nog meer vir sy ystererts in randterme verdien het as teenoor ’n jaar tevore. Kumba se inkomste het te danke hieraan met 41% tot R64,3 miljard gestyg.

Sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) het met 62% tot R33,4 miljard gestyg.

Kumba se wesensverdienste per aandeel van R50,88 is 68% hoër as ’n jaar gelede.

Die maatskappy het ’n finale dividend van R15,99 per aandeel verklaar. Hy het dus ’n totale dividend van R46,78 vir die jaar betaal wanneer die tussentydse dividend van R30,79 per aandeel ingereken word, sê die maatskappy in die verklaring.

Themba Mkhwanazi, uitvoerende hoof van Kumba, sê in die verklaring hulle is veral by oor die prestasie, gegee die swakker binnelandse aanvraag na ystererts. Hy wys daarop dat ArelorMittal Suid-Afrika se besluit om sy staalaanleg in Saldanha te sluit, reeds daartoe gelei het dat hy minder ystererts verkoop het.

Kumba het gedurende 42,2 miljoen ton erts verkoop. Dit is 2,4% minder as die 43,3 miljoen ton wat in 2018 verkoop is. Hiervan het hy 40 miljoen ton uitgevoer en 2 miljoen ton aan die plaaslike mark verskaf.

Kumba se Sishen-ysterertsmyn bly ’n staatmaker. Dié myn het selfs nadat daar ongeskeduleerde instandhouding by die myn en die gepaardgaande aanleg uitgevoer moes word, net 1% minder ystererts gelewer as ’n jaar tevore.

Dié myn het in totaal 218,8 miljoen ton erts in 2019 gelewer.

Kumba begin Dinsdag teen R369,32 per aandeel op die JSE verhandel.

Meer oor:  Anglo American  |  Kumba  |  Ystererts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.