Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Exxaro betaal dividend danksy verkope aan Eskom
Exxaro se Grootegeluk-steenkoolmyn Foto: Argief

Exxaro, wat steenkool aan Eskom se Medupi-kragstasie lewer, lag al die pad bank toe namate dié kragstasie op dreef kom.

Exxaro het Donderdagoggend in ’n verklaring op sy webwerf gesê sy goeie finansiële prestasie in die ses maande tot einde Junie is hoofsaaklik aan dié kontrak te danke.

Die maatskappy se Grootegeluk-steenkoolmyn, naby Lephalale in Limpopo, is uitgebrei sodat hy genoeg steenkool aan Medupi kan lewer.

Exxaro sê die myn het in die ses maande 816 000 ton steenkool gelewer. Dit is 6% meer as die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede.

Buiten vir die groter aanvraag by Medupi, het Eskom oor die algemeen 11% meer steenkool in die ses maande onder oorsig as in die vergelykende tydperk by Exxaro gekoop.

Exxaro sê die toename in steenkoolverkope aan Eskom het die laer verkoopsvolumes aan ander kliënte weens die koronaviruspandemie teengewerk.

Exxaro het ook minder steenkool aan ArcelorMittal Suid-Afrika verkoop nadat dié sy Saldanha Staal-aanleg vroeër vanjaar in ’n staat van sorg en instandhouding geplaas het.

Exxaro se inkomste uit steenkool het gedurende die ses maande met 15% tot R13,73 miljard gestyg.

Die maatskappy was een van min wat gedurende die staat van inperking kon voortgaan met bedrywighede danksy die feit dat die verskaffing van steenkool aan Eskom as noodsaaklike diens beskou word.

Exxaro se totale inkomste het met 18% tot R14 miljard gestyg.

Sy wins voor belasting beloop R6,1 miljard; 16% meer as in die vergelykbare tydperk.

Die wesensverdienste het egter met 24% tot R3,315 gedaal.

Exxaro sê dit is hoofsaaklik weens die verrekening van ’n nie-beherende belang van R1,224 miljard.

Die maatskappy het ’n tussentydse dividend van R6,43 per aandeel verklaar.

Die kernwesensverdienste per aandeel (ná aanpassings) is wel 11% hoër op R13,39.

Exxaro se skuld beloop R5,8 miljard, bykans onveranderd teenoor die vergelykende tydperk.

Exxaro se aandele het Donderdag net meer as 2% laer teen R136,90 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Eskom  |  Exxaro  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.