Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Fase 6-beurtkrag kos Harmony R69 m. in een dag
Harmony Gold se Khusasalethu-goudmyn.

Fase 6-beurtkrag wat op 9 Desember ingestel is, het die mynmaatskappy Harmony Gold bykans R69 miljoen gekos.

Die maatskappy het Dinsdagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê dié besluit deur Eskom het hom sowat 90 kg goud gekos.

Goud het op 10 Desember teen sowat R763 464 per kilogram verhandel.

Harmony sê duur elektrisiteit tesame met die onvoorspelbaarheid oor of dit beskikbaar is of nie, maak nou sowat 16% van sy totale koste uit om goud te produseer.

Teen einde Desember het dit Harmony R605 911 gekos om een kilogram goud te produseer. Dit is 15% méér as ’n jaar tevore.

Harmony het Dinsdag sy resultate vir die ses maande tot einde Desember bekend gemaak.

Hoewel beurtkrag hom duur te staan gekom het, het Harmony tog ’n baie goeie ses maande agter die rug.

Dit is alles te danke aan die goudprys wat teen gemiddeld R683 158 per kg verhandel het – 19% hoër as gedurende die ses maande in vergelyking met die vorige jaar.

Harmony se inkomste het met R1,7 miljard tot R15,477 miljard gestyg. Dit is 12% hoër as die ooreenstemmende tydperk ’n jaar tevore – en ongeag die laer goudproduksie. Hy het net 21 411 kg se goud gedurende die ses maande gelewer, sowat 8% minder as ’n jaar tevore.

Harmony sê ’n groot rede vir dié daling is dat hy nou net 5,29 g/t goud lewer. Dit is hoofsaaklik soos wat goudreserwes by sy Kusasalethu-myn daal.

Verdienste en wesensverdienste per aandeel het albei met ’n enorme 6 325% tot R2,49 gestyg teenoor ’n jaar tevore.

Hoewel Harmony beduidend beter presteer het, het hy steeds skuld van R4,29 miljard. Dit is sowat 13% laer as wat dit aan die einde van Junie 2019 was.

Die maatskappy het besluit om nié ’n tussentydse dividend te verklaar nie.

Oor die toekoms sê Harmony hy verwag dat hy steeds minder goud per ton gaan lewer soos wat sy myne verder ontgin word. By van sy myne soos Target is hy besig om toerusting te skuif sodat dit nader aan gebiede is waar hoër grade goud ontgin kan word.

Harmony sê hy hoop om sowat 1,4 miljoen ons goud gedurende die 2020 boekjaar te produseer. Dit is sowat 4% minder as waarop hy oorspronklik gereken het.

Hy sê benewens die uitdaging van laer hoeveelhede goud per ton wat gemyn word, gaan hy ook plan moet maak om te verseker die kragvoorsiening is stabiel.

“Ons is dringend besig om stappe te doen om dié situasie te verbeter,” sê Harmony in die verklaring.

Van die stappe sluit in om krag meer doeltreffend te gebruik en om vas te stel watter oplossings derde partye soos onafhanklike kragprodusente kan bied.

Harmony het Dinsdag teen R45,27 per aandeel op die JSE begin verhandel.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Resultate  |  Mynbou  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.