Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Flukse Amplats ‘sien éérs om na sy aandeelhouers’

Anglo American Platinum (Amplats) se eerste prioriteit is om geld terug te sit in sy aandeelhouers se sak – al kan dié mynhuis dit bekostig om uit te brei en nuwe projekte aan te pak, sê Natascha Viljoen, uitvoerende hoof.

Rodium – ’n edelmetaal wat gebruik word in die vervaardiging van katalisators in voertuie wat skadelike uitlaatgasse suiwer. Foto: livescience.com

Amplats-beleggers is die afgelope twee jaar goed beloon. Die mandjieprys van die platinumgroepmetale (PGM’s) het op ’n jaargrondslag in dollarwaarde met 56% toegeneem. In randwaarde lyk die prentjie selfs beter met ’n 80%-toename weens ’n 15%-verswakking in die rand se waarde.

Dit het Amplats in staat gestel om ’n dividend van R10,23 vir die ses maande tot einde Junie te verklaar in ’n tyd waarin talle maatskappye dividend-uitbetalings opgeskort het te midde van die ekonomiese krisis weens Covid-19.

Viljoen, die eerste vrou in dié pos, het die leisels as uitvoerende hoof op 20 April by Chris Griffith oorgeneem.

Dit was ’n onstuimige tyd, het Viljoen in die afgelope week op ’n webinaar gesê wat deur Coronation aangebied is.

Tegniese probleme by sy raffinaderye in Rustenburg, gevolg deur die uitbreking van Covid-19 het produksie tot stilstand laat knars. Mynhuise kon hul bedrywighede weer van 1 Junie af ten volle hervat, maar dit kos fyn voetwerk om ’n veilige omgewing vir mynwerkers te skep, het Viljoen gesê. “Ons het stelsels ingestel wat werk, maar ons gaan ook van die veronderstelling af uit dat Covid-19 nie weggaan nie. Ons sal daarmee moet saamleef – minstens totdat ’n entstof beskikbaar is.”

Natascha Viljoen

Viljoen het in Klerksdorp grootgeword waar haar pa ’n skofbestuurder van ’n goudmyn was.

“Mynbou is in my are,” het sy gesê. “Ek het gou besef watter moontlikhede daar in mynbou is.”

Sy het metallurgiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit gestudeer en haar loopbaan by die destydse Iscor begin.

Sy het ook poste by AngloGold en BHP beklee voordat sy in 2008 na Lonmin geskuif het. Daar het Viljoen ’n uitvoerende pos beklee waar sy onder meer verantwoordelik was vir volhoubaarheid. Die Marikana-slagting het in dié tyd plaasgevind.

“Ons het geleer om menslikheid na die onderhandelingstafel te bring en werkers eerste (te stel), dan vakbonde.”

Sy het haar in 2014 by Anglo American aangesluit waar sy groephoof van verwerking was.

Viljoen is dankbaar vir die werk wat Griffith gedoen het om die maatskappy meer vaartbelyn te maak.

“Chris het ’n uiters komplekse maatskappy herskik in ’n tyd toe kommoditeitspryse laag was, en hy het die bedryfskoste aansienlik afgebring en produktiwiteit verhoog.”

Meer oor:  Amplats  |  Aandeelhouers  |  Beleggings  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.