Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Kollig op handves se ideologie

Met die eerste oogopslag het die Mynbouhandves ’n Marxistiese onderbou. Dit maak voorsiening vir uitkomsgerigte staatsregulering, en die aanhef lui dat die meeste Suid-Afrikaners “verhinder is om produksiemiddele te besit” – ’n klassieke Karl Marx-aanhaling.

By nadere ontleding kom ’n interessante ideologiese vermenging in die handves egter na vore. So is daar kapitalistiese elemente waar rykdom geskep moet word vir voorheen benadeeldes – soos swart entrepreneurs, werknemers en myngemeenskappe – deur middel van voorkeuraanstellings, asook eienaarskap- en aandeel­houdingskemas.

Sulke finansiële welstand kan egter uit verskeie ideologiese hoeke ontleed word.

Adam Smith, die “vader” van kapitalisme, het gesê: “No society can surely be flourishing and happy, of which the far greater part of the members are poor and miserable.” Vir hom het “rykdom” “mag” beteken, en hy sou tevrede wees met die finansiële voordele wat aandeelhouding, aandeelverhandeling en dividendbetalings vir begunstigdes inhou.

Erik Olin Wright, die Amerikaanse analitiese Marxistiese sosioloog, sal die werknemer-begunstigdes egter as kwasikapitaliste brandmerk omdat dié vorm van eienaarskap die klasseverskil tussen werknemers en werkgewers wegkalwe.

Wright het juis hierdie standpunt oor werknemerdeelname aan pensioenfondsskemas gehuldig.

Maar gemeet aan formele eienaarskap wat totale beheer insluit, is hier indirekte eienaarskap by pensioenfondsdeelname en die handves ter sprake. Dit behoort selfs uit ’n Marxistiese hoek nie ’n beduidende impak op klasseverhoudinge te hê nie.

Die handves bepaal voorts dat vroue, werknemers en myngemeenskappe ’n wesenlike en betekenisvolle ekonomiese belang in die sektor moet hê. Om daaraan te voldoen, word voorsiening gemaak vir die uitreiking van aandele sonder enige koste vir die begunstigdes, asook deelname aan jaarlikse aandeelhouersvergaderings, wat stemreg insluit.

Gelukkig behoort net die minerale onder die grond aan die staat, terwyl mynbouproduksie in private besit is, wat beleggers nog effe gemoedsrus gee.
Gideon du Plessis van Solidariteit

Dié vorm van deelname neig na “demokratiese sosialisme” waar die staat nie eksklusiewe eienaarskap oor produksiemiddele het nie, maar waar werkers en gemeenskappe ook ’n mate van beheer oor kapitaal kan uitoefen.

Daarenteen verleen die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petro­leumhulpbronne, waaruit die handves voortspruit, egter eksklusiewe beheer oor alle mineraalregte aan die staat, wat ’n vorm van “staatskapitalisme” skep. Gelukkig behoort net die minerale onder die grond aan die staat, terwyl mynbouproduksie in private besit is, wat beleggers nog effe gemoedsrus gee.

Dan het die handves die skep van ’n nie-rassige mynbouomgewing ten doel. Uit ’n historiese hoek beskou, beteken dit dat swart Suid-Afrikaners se betrokkenheid en bevoordeling op alle moontlike vlakke moet geskied.

Verrassend genoeg is dit slegs deels die geval, want om ’n nie-rassige omgewing te skep, vorm wit vroue deel van die definisie van “voorheen benadeelde Suid-Afrikaners”, en wit werknemers wat nie aandele as deel van hul vergoedingspakket ontvang nie, word deel van die werknemeraandeelhoudingskema.

Tydens die handvesonderhandelinge is dié beginsel egter teruggevoer na die Marxistiese gedagte dat kapitalisme die samelewing in twee hoofgroepe verdeel: die bourgeoisie (eienaars van produksie) en proletariaat (diegene wat produksie moet laat geskied). Dit is dus eintlik die “klassebeginsel” wat nie-rassig word.

Die wyse waarop die handves voorsiening maak vir myngemeenskappe om, soos in die geval van werkers, ’n 5%- draende belang te kry, word herlei na druk uit myngemeenskappe wat ook mynregte wil besit. Omdat die staat namens die “mense” (soos in die ANC se Vryheidsmanifes vervat) die mynreg besit, maak die handves voorsiening vir horisontale regulering, om myngemeenskappe ’n vorm van aandeelhouding te gee in ruil vir inspraak in watter mynhuis ’n mynreg kan bekom.

In die regering se ideeraamwerk bereik die handves “moderne demokrasie”. Prof. Vishwas Satgar van die Universiteit van die Witwatersrand beskryf dit as “die mense se vryheidstryd om kapitaal se mag te beperk en moderne burgerskap uit te brei tot voordeel van histories benadeelde Suid-Afrikaners”.

Uit die handves se ideologiese raamwerk is dit duidelik waarom dit sowel ’n ekonomiese as ’n maatskaplike beleidsdokument is. Wat egter nog onduidelik is, is hoe dit die sektor gaan laat groei sodat daar rykdom is om te verdeel.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.

Meer oor:  Mynbou  |  Mynbouhandves  |  Transformasie  |  Kapitalisme  |  Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.