Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Twis oor handves ironies

Ná 15 rondes van onderhandelinge kon belanghebbende partye nie oor sleutelkwessies in die hersiene Mynbouhandves ooreenkom nie. Om ’n dooiepunt te voorkom, word probeer om in beginsel ooreen te kom oor uitstaande kwessies en die fyner besonderhede later te pak.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Gelukkig het die regering se besluit om teen die onlangse hooggeregshofuitspraak oor die beginsel van eens-bemagtig-altyd-bemagtig te appelleer, nie die onderhandelinge ontspoor nie.

Die hoofrede waarom die regering teen die meerderheidsuitspraak appelleer, is dat die regters die regskrag van die huidige en vorige handveste tot ’n riglyn verwater en só meer regsonsekerheid skep.

Ek dink die departement van minerale hulpbronne wil die vuurwapen wat die Kamer van Mynwese ná die gunstige uitspraak teen die departement se kop gehou het, nou teen die kamer se kop hou.

Dan deel die waarnemende regter wat die uitspraak gelewer het en die kamer se senior advokaat glo advokatekamers, wat die departement agterdogtig maak.

Die nuwe hofgeding behoort nie die implementering van die handves te vertraag nie, want daar is in beginsel ooreengekom oor die toepassing van die eens-bemagtig-altyd-bemagtig-beginsel.

Die dinamika tussen die onderhandelingspartye is interessant.

So is internasionale regsfirmas en bankiers genooi om aan te toon wat hul buitelandse kliënte ontmoedig om in Suid-Afrika se mynbedryf te belê en waarom van hul Suid-Afrikaanse kliënte eerder in die buiteland belê.

Amper al die aanbieders sê hul kliënte belê in lande waar die politieke omgewing ook onstabiel is en van die regerings tot 51% in myne besit, maar dan is mynbouwetgewing kristalhelder en bly dit onveranderd. Maatskappye weet presies wat “voldoening” en “nievoldoening” behels. Hul risiko’s is dus duidelik.

Die welsprekende aanbieders met hul ontwerperspakke is deur twee van die onderhandelingspartye met totale minagting bejeën en aggressief aangeval.

Amper al die aanbieders sê hul kliënte belê in lande waar die politieke omgewing ook onstabiel is, maar dan is mynbouwetgewing kristalhelder.

Die volgende dag was ’n verlinkse voormalige vakbondman aan die woord wat seker gemaak het almal weet hoe aktief hy in die vryheidstryd was. Hy beklemtoon presies dieselfde regulatoriese onsekerhede as die vorige dag se aanbieders en voeg by dat mynhuise hul beursies toeknyp, want hulle weet nie waarvoor hulle volgende moet betaal nie.

Hierdie kameraad kry heel ironies groot applous en sy waardevolle insette word geprys – praat van vooroordeel!

Nog ’n ironiese voorval was toe ’n vuurvreter- wit onderhandelaar van een van die vakbonde die Kamer van Mynwese se drie swart onderhandelaars erg voor stok gekry het oor die kamer se beweerde antitransformasie-benadering wat swart aanstellings betref.

Die kamer se swart onderhandelaars verdedig toe wit topbesture, en die wit onderhandelaar wil nie wit bestuurders sien nie!

Wat kommerwekkend is oor die gelyke-indiensnemingsonderhandelinge is die regeringsverteenwoordigers wat ’n sterk Afrikanistiese agenda dryf – en waar die departement se amptenare eintlik as tegniese ondersteuningspersoneel in die forum dien, dryf hulle ’n agenda wat bruin en Indiërwerknemers kan vervreem.

Die Suid-Afrikaanse Mynbou-ontwikkelingskamer (Samda), wat om die tafel sit om junior myners te verteenwoordig, skep nog ’n kopkrapsituasie.

Samda is ’n “werkgewersorganisasie” sonder ’n kantoor, ledelys, webwerf of ’n organogram, maar sit soos ’n gespanne boog in die onderhandelinge reg om die kamer aan te val. Hul selfaangestelde president is die vrou van ’n kabinetsminister, die suster van ’n mynmagnaat en die skoonsuster van die land se president...

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.