Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Goudsektor se ‘fopnuus-model’

Salarisonderhandelinge in die goudsektor is in die beginfase waar die misbruik van syfers deel is van die magspel tussen partye.

Gideon du Plessis

Die Mineraleraad, wat goudmynhuise verteenwoordig, was byvoorbeeld vinnig met hul aankondiging dat die vakbonde gesamentlik 137 eise ingedien het; dat ongeveer 75% van die goudmaatskappye niewinsgewend is; en dat die arbeidsmag in die goudsektor tot onder 100 000 gekrimp het.

Vakbonde het hierdie syfers betwyfel.

Eerstens is daarop gewys dat die vier vakbonde se onderskeie eise mekaar grootliks dupliseer en daarom nie bymekaar getel kan word nie.

Tweedens het die onderskeie mynhuise in aanbiedings aan vakbonde oor hul finansiële posisie die indruk geskep dat nagenoeg 50% van die myne onder finansiële druk verkeer, in teenstelling met die Mineraleraad se mediasyfer wat dit afwisselend tussen 70% en 80% stel, terwyl die raad op hul webwerf aantoon dat die helfte van die myne marginaal is.

Derdens het die raad die getal werknemers wat in die sektor werksaam is in ’n aanbieding op 112 000 werkers gestel; in ’n uitdeelstuk het hulle aangedui daar is minder as 100 000 werknemers in die sektor oor, terwyl hul webwerf weer ’n syfer van 120 000 aandui.

Vakbonde begin hul openingseis gewoonlik onrealisties hoog en werkgewers begin onrealisties laag met hul verhogingsaanbod.
Gideon du Plessis van Solidariteit

Die raad sou meer geloofwaardig gewees het as hy bloot aangedui het mynhuise is onder geweldige finansiële druk en die arbeidsmag het gekrimp.

Amcu se magiese syfer in die onderhandelinge is ’n minimum loon van R12 500, wat hul eis sedert Marikana in 2012 is. Amcu eis voorts ’n 12%-verhoging vir hoëvlakwerknemers.

Ter wille van hul openbarebetrekkinge-strategie ignoreer die raad die 12% en voer aan dat Amcu ’n 58%-verhoging eis, deur slegs op die R12 500 te fokus.

Die ander mynbouvakbond, die NUM, eis weer ’n 15%-verhoging, maar het sommer met die intrapslag aangedui dat as die raad hulle ’n 12%-verhoging aanbied, hulle talle ander eise sal laat vaar.

Solidariteit, daarenteen, se openingseis is VPI (verbruikersprysinflasiekoers) plus 4%. Hierdie eis is ontleen uit die raad se eie statistieke dat die gemiddelde verhoging vir intreevlakwerkers vir die tydperk 2009 tot 2017 VPI plus 4% was.

Dit is hoog tyd dat Nedlac die leiding neem om ’n produktiewer, deursigtiger en geloofwaardiger model vir loononderhandelinge te help vestig, meen Gideon du Plessis van Solidariteit. Foto: Bloomberg

Solidariteit se argument is dat die vaardige werknemers in dieselfde tyd verhogings in ooreenstemming met inflasie of ’n raps bokant die inflasiekoers ontvang het, en dat dit tyd is dat vaardige werknemers billik vergoed word.

Vakbonde se aanvangseise moet verstaan word in die lig van die posisionele onderhandelingsmodel wat die norm in Suid-Afrika is – maar kunsmatig is.

Volgens dié model begin vakbonde hul openingseis gewoonlik onrealisties hoog en werkgewers begin onrealisties laag met hul verhogingsaanbod (soos Eskom se 0%-openingsaanbod) en dan beweeg die partye mettertyd nader na mekaar toe. Vakbonde se openingseis weerspieël eintlik bloot die soort verhoging wat werknemers graag sou wou kry.

Ongeag die groot verskeidenheid van ander eise deur vakbonde sal ontleders en joernaliste net op die salarisverhogingseis fokus, dit aan die VPI koppel en afleidings daaroor maak sonder om die kunsmatige dinamika daaragter te verstaan.

Aan die ander kant moet werkgewerverteenwoordigers, wat self ’n goeie verhoging verlang, ’n lae openingsaanbod vir vaardige werknemers motiveer, soos die 3% van Sibanye-Stillwater in die goudonderhandelinge.

Die beste argument waarmee hulle vorendag kon kom, was om aan te dui dat Sibanye se senior bestuur slegs ’n 3,5%-verhoging gekry het. Die vakbonde wag egter nog om te hoor wat hierdie 3,5%-verhoging in randwaarde behels.

Die jongste PwC-verslag oor die vergoeding van uitvoerende hoofde het nie op ’n geleë tyd vir mynhuise gekom nie, want die salarisse wat daarin vermeld word, toon geen teken van ’n kwynende mynbedryf nie. Vir doeleindes van openbare betrekkinge het die raad ná die openingsaanbiedings op die 6,5%-aanbod aan sommige intreevlakwerkers gefokus om die indruk van ’n bo-inflasie-verhoging te skep.

Onderhandelinge is dus ’n spel totdat ’n dooie punt bereik en vakbonde se openingseise irrelevant word, waarna die fokus na die werkgewer se posisie skuif. Hierdie posisionele onderhandelingsmodel het ’n “fopnuus-model” geword en dit is hoog tyd dat Nedlac die leiding neem om ’n produktiewer, deursigtiger en geloofwaardiger model te help vestig.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit

Meer oor:  Pwc  |  Gideon Du Plessis  |  Mynbou  |  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Mineraleraad Van Suid-Afrika  |  Amcu  |  Goudmaatskappye  |  Num  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.