Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Kom ons besin oor veilige myne

Die 21 mynsterftes wat vanjaar by Sibanye-Stillwater plaasgevind het, bring mee dat dié myngroep aan groepsgedinge en politieke aanvalle blootgestel is.

Gideon du Plessis

Tot Sibanye se krediet is twee veiligheidsberade gehou waar rolspelers die geleentheid gehad het om hul gevoelens te uiter en om saam na oplossings te soek.

Sibanye se uitvoerende hoof, Neal Froneman, het op die laaste beraad aangevoer dat elke voorval uniek is en dat daar geen verband tussen die voorvalle bestaan nie.

Die geregtelike ondersoeke sal die feite bepaal, maar uit gesprekke wat met betrokkenes op die veiligheidsberade gevoer is, wat mynwerkersvakbonde, adv. Hanlie van Vuuren (’n beroepsgesondheidskenner) en Steve Scott (wat Sibanye eerstehands ken) ingesluit het, blyk dit dat Froneman se siening meriete het.

Uit die gesprekke kon ook afgelei word dat die maatskappybestuur, werknemers, vakbonde en inspekteurs van die departement van minerale bronne almal sal moet besin oor hul invloed op mynveiligheid.

Volgens Scott is daar ’n probleem by ondersoeke na mynsterftes omdat daar ’n skuldige gesoek word wat die blaam en gevolge moet dra. Daarom sal betrokkenes meestal probeer om bloot die blaam te verskuif. Daar is meestal dus nie ’n objektiewe fokus op die werklike grondoorsake nie en derhalwe word daar nie voldoende lesse uit ’n noodlottige voorval geleer om ’n herhaling te voorkom nie.

Die mynwerkersvakbond NUM het verlede week op ’n veiligheidsforum aangevoer dat die “boeliekultuur” by Sibanye die oorsaak van die sterftes is. Skynbaar dreig die maatskappy enige party met regstappe as die oorsaak van ’n voorval voor hul deur gelê word en die maatskappykultuur ontmoedig werkers om uit ’n onveilige area te onttrek.

Van Vuuren is weer van mening dat die produksiebonusstelsel daartoe aanleiding gee dat bestuurders en werkers produksiebonusse najaag en gevaartekens ignoreer en moontlik selfs veiligheidsprosesse omseil om produksie te verhoog.

Dan toon die mynwerkersvakbond Amcu ’n verbasend nugtere benadering en voer aan dat vakbondwedywering ’n impak op veiligheid kan hê omdat dit soms gebeur dat lede van een vakbond nie opdragte van ’n toesighouer wat aan ’n opposisievakbond behoort, aanvaar nie, of dat spankameraadskap versteur word weens gemengde vakbond-lidmaatskap en veiligheidsgesprekke só afgewater word.

Die departement van minerale bronne se negatiewe impak op mynveiligheid kan onder meer teruggevoer word na die voormalige minister, Mosebenzi Zwane, wat die inspektoraat gedeeltelik verpolitiseer het. Knap inspekteurs het gevolglik die pad gevat.

“Om mee te begin, sal die nuwe minister, Gwede Mantashe, dringend ’n permanente hoofinspekteur moet aanstel,” sê Van Vuuren.

Volgens Van Vuuren blyk ’n tekort aan sleutelpersoneel ondergronds ’n algemene besorgdheid te wees. Dié tekorte lei daartoe dat leemtes in toesighouding ontstaan.

Personeeltekorte veroorsaak ook dat minder verlof geneem kan word en uitputting toeneem. Soms wil werkers weens die produksiebonusstelsel nie siekteverlof neem nie oor die inkomsteverlies wat dit inhou.

Daar heers eenstemmigheid onder al die rolspelers oor die belangrikheid van opleiding en heropleiding om só werknemers se kennis op te skerp en veiligheidsbewustheid te verhoog.

Die geregtelike ondersoeke behoort duidelikheid te gee oor die oorsake van die mynsterftes, maar soos Scott tereg opgemerk het: “Werknemers se verbintenis tot veiligheid begin by die huis en ’n mynwerker wat op pad werk toe ’n stopstraat ignoreer, se ingesteldheid word ’n gevaar vir kollegas onder in die myn.”

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.