Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Mantashe, mynbou vir mekaar bedoel

Die nuwe minister van minerale hulpbronne, Samson Gwede Mantashe, of “SG” soos hy bekend staan, onderskryf ’n bepaalde ideologiese denkraamwerk, maak sy eie reëls, en hy doen dinge op ’n manier wat nie by almal byval vind nie.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Dit ten spyt is hy net betyds aangestel om die mynbousektor van ineenstorting te red.

Sy onlangse ingryping om die omstrede Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne geskrap te kry, was een van vele strategiese ingrypings om mynbou weer op koers te kry.

Vele faktore tel in Mantashe se guns, maar die feit dat hy en pres. Cyril Ramaphosa albei voormalige leiers van die National Union of Mineworkers was, beteken hy en sy “lynhoof” verstaan mynbou en mekaar.

Gepaardgaande daarmee maak sy onderhandelingsvaardighede en eerstehandse kennis van die Mineraleraad, mynbouvakbonde en mynbougemeenskappe hom die ideale aanstelling.

Op ’n onlangse Minerale-en-Petro­leum-vergadering het Mantashe aangedui dat hy in sy element is omdat hy lief is vir mynbou, en die hoop uitgespreek dat die “Buffel” – sy skertsende verwysing na Ramaphosa – hom ná volgende jaar se verkiesing in dié pos sal hou. Hy het bygevoeg dat hy hom beywer om mynbou boaan die kabinet se agenda te kry vanweë die hoë profiel van die sektor en die impak daarvan op mense se lewe.

[Gwade Mantashe] wil ’n span hê wat met mynhuise kan saamwerk en het aan amptenare beklemtoon dat mynhuise hul kliënte is, en nie teenstanders is nie.
Gideon du Plessis van Solidariteit

Mantashe moes egter eers sy voorganger, Mosebenzi Zwane, se knoeiwerk regmaak deur eerstens die geloofwaardigheid van die konsultasieproses rakende die Mynbouhandves te herstel. Anders as Zwane, het hy met elke raad en komitee wat aan sy departement verbonde is, vergader en vir elk doelwitte en uitdagings gestel om hul relevansie te verhoog.

Mantashe het egter heelwat voorsitters en hoofde wat in Zwane se tyd aangestel is en geensins oor die gepaste agtergrond beskik nie, openlik verneder deur verontwaardig te wees oor hul aanstellings – derhalwe rol koppe nou. Weens ’n uitvloei aan institusionele kennis wat in Zwane se vernietigingstog ontstaan het, het Mantashe hom ook onmiddellik omring met voormalige senior amptenare as raadgewers.

Weens sy weersin in staatsdiens-rompslomp wat veroorsaak dat skrywes hom eers ná weke bereik, het hy ’n beleid ingestel dat sy raadgewers gekontak mag word indien ’n rolspeler ’n dringende aangeleentheid met hom wil bespreek.

Dan is Mantashe glad nie ten gunste van die groot getal regsgeleerdes werksaam in die departement van minerale hulpbronne nie. Sy argument is dat dit die rede is vir hul geneigdheid om regsgedinge aanhangig te maak.

Hy wil ’n span hê wat met mynhuise kan saamwerk en het aan amptenare beklemtoon dat mynhuise hul kliënte is, en nie teenstanders is nie.

Hy het ook streekskantore gesluit waar daar enige bewyse of suspisie van korrupsie was, veral met die uitreiking van mynlisensies.

Al het Mantashe ’n krasse styl, is hy vir seker die regte persoon vir die jop – en die “Buffel” moet dit besef.
Gideon du Plessis van Solidariteit

Hy doen ook moeite om verhoudings met die Mineraleraad te herstel en so het hy direk ná afloop van die ANC se onlangse lekgotla eers by die raad se kantoor vertoef en hulle ingelig oor besluite wat by die lekgotla aanvaar is.

In reaksie op brandende kwessies soos stygende kragtariewe wat die raad in die gesprek geopper het, het hy onderneem om dit met sy kabinetskollegas te bespreek en oplossings te vind – as ANC-voorsitter en senior leier onder die ANC se top-ses het hy die nodige invloed by ander ministers.

Hy is egter ’n kameraad van vakbonde en mynwerkers, want met die wyse waarop Mantashe sy misnoeë uitgespreek het ná Impala Platinum en Goldfields se onlangse aankondigings oor grootskaalse afleggings, word sy hoëvlak- politieke steun nou deel van vakbonde se magsbou-arsenaal.

Mantashe predik ook deurgaans aan mynbourolspelers om positiewe taal te gebruik as daar na die sektor verwys word. Toe Solidariteit in reaksie op Impala se beoogde afleggings in ’n mediaverklaring aanvoer dat die vyandige en onsekere mynbouomgewing deels verantwoordelik is vir die afleggingsbloedbad, het die minister se raadgewer my na die “hoof” se kantoor laat kom om dié stelling te kom verduidelik.

Al het Mantashe ’n krasse styl, is hy vir seker die regte persoon vir die jop – en die “Buffel” moet dit besef.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.