Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gideon du Plessis: Nuwe winde waai in mynbou
Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

’n Volle 23 maande nadat Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, die eerste weergawe van die Mynbouhandves 3 in die Staatskoerant gepubliseer het, het die eerste formele raadpleging onder leiding van Gwede Mantashe, nuwe minister van minerale bronne, begin.

As mynbouminister bring Mantashe ’n heeltemal nuwe dinamika na die onderhandelinge omdat hy die mynbedryf eerstehands ken en hy lid is van die ANC se topses en seine uitstuur oor wat die party se beleid oor sleutelkwessies is. Verder is hy ’n gesoute onderhandelaar.

Dié keer is sy betrokkenheid by onderhandelinge nie as die mynwerkersvakbond NUM se hoofsekretaris nie, maar as die minister, met groter mag.

Volgens Mantashe is die regering se doel met die handves om “eienaarskap en beheer van die mynbousektor na swart Suid-Afrikaners te skuif” en “rykdom vir swart Suid-Afrikaners te skep”. Hy huldig die standpunt dat dié met politieke bande nie daardeur verryk mag word nie en dat swart mense moet werk vir hul deel van die mynbousektor, anders waardeer hulle dit nie.

So is die handves-onderhandelinge nie vir diegene wat sensitief is oor rassekwessies nie, want daar vind hoofsaaklik wit-swart-debatte plaas.

Mantashe dring daarop aan dat daar nie “ekstremisme” in debatvoering moet wees as sake hewig raak nie.

Drie verdere reëls wat die onderhandelinge geld, is dat partye nie ’n probleem mag opper as dit nie met ’n oplossing gepaardgaan nie, alle partye mekaar met respek behandel en in goeder trou onderhandel, en die handves nie gebruik word om die staat se uitdagings rondom administrasie en vermoë te takel nie.

Nou moet die populistiese heethoofde nie, soos in die grondkwessie, dié debat kaap en omstrede maak nie.

’n Sterk ideologiese onderbou het na vore gekom toe Mantashe en sy adjunkminister, Godfrey Oliphant, gesê het alle werkers onder middelvlakbestuur is “werkers wat hul arbeid verkoop om te oorleef”. Dus moet bemagtigingskemas álle werkers, ongeag ras, bevoordeel.

Die rassedinamika by die onderhandelingstafel is interessant. Mxolisi Mgojo, die Kamer van Mynwese se president, en die twee visepresidente, Andile Sangqu en Steve Phiri, tree sterk op die voorgrond in onderhandelinge in prinsipaleforums. Dan het die kamer drie sterk onderhandelaars, swart Suid-Afrikaners, in die handves-taakspan.

Dit is ironies hoe die “rasse-angel” wat met antimynhuis-gevoelens gepaardgaan, getrek is. Wanneer die onderhandelaars aan regeringskant na die kamer se onderhandelaars as “julle” verwys, het dit nou ’n klasverbintenis en nie meer ’n rasseverbintenis nie.

Intussen word hard in die handves-taakspan onderhandel om teen 10 April ’n vorderingsverslag te hê. Die regering se opdrag aan hulle is om die mynbedryf van ’n sektor van min transformasie en swak groei in een van sterk groei en transformasie te verander. Dit verg “gee en neem”, want bemagtiging moet op drie vlakke plaasvind: entrepreneurs-, werker- en gemeenskapsvlak, en dan moet die balans met die volhoubaarheid van die bedryf bewaar word.

Die handves moet Suid-Afrika ook teen ’n verdere afgradering help beskerm en sy plek in die Fraser-instituut se opname oor mynbou-beleidsekerheid van ’n skandalige 80ste uit 91 lande verbeter.

Alle belanghebbende partye is verbind tot pres. Cyril Ramaphosa se sperdatum, einde Junie, vir die afhandeling van die handves-onderhandelinge. Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, sê die handves se inhoud is belangriker vir graderingagentskappe as die sperdatum, maar hy is daarop gewys dat graderingagentskappe nie belangriker is as die bemagtiging van mynwerkers nie.

Die dinamika om die onderhandelingstafel is ’n kombinasie van tradisionele magspel en die soeke na ’n wen-wen-situasie. Nou moet die populistiese heethoofde nie, soos in die grondkwessie, dié debat kaap en omstrede maak nie.

  • Gideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidariteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.