Gold Fields se nuwe uitvoerende hoof, Chris Griffith, sal op 1 April die leisels by Nick Holland oorneem.

Chris Griffith, nuwe uitvoerende hoof van Gold Fields Foto: MiningMX
Holland tree op 31 Maart af – ses maande vroeër as beplan om die “oorgang” van die leierskap te help fasiliteer.
Holland was 13 jaar lank die uitvoerende hoof van Gold Fields.
Griffith was voorheen amper agt jaar lank – van September 2012 tot April 2020 – die uitvoerende hoof van Anglo American Platinum (Amplats). Voor dit was hy van 2008 tot 2012 die uitvoerende hoof van Kumba Iron Ore.
Griffith beskik oor ’n B.Ing-honneursgraad in mynbou van die Universiteit van Pretoria en het al verskeie leierskapskursusse deur die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.
“Ons is verheug dat ’n ervare bestuurder van Chris se kaliber hom by Gold Fields gaan aansluit. Hy het diepgaande operasionele mynbou-ervaring en ’n indrukwekkende geskiedenis van veilige bedryfsprestasie en effektiewe verandering,” sê Cheryl Carolus, voorsitter van Gold Fields, Donderdag in ’n verklaring.
“Ons is vol vertroue dat Chris die regte persoon is om die werk voort te sit.”
Carolus het Holland vir sy bydrae bedank.
“Nick het Gold Fields gedefinieer soos dit vandag is: ’n Wêreldwye, baie winsgewende en volhoubare onderneming wat algemeen as ’n leier op sy gebied beskou word.
“In 2008 het twee derdes van ons produksie uit Suid-Afrika gekom; in 2020 het ongeveer 90% van buite Suid-Afrika gekom, met al ons myne wat baie gemeganiseerd en toenemend outomaties was,” het Carolus gesê.
“Bowenal het Nick veiligheid en welstand by al ons bedrywighede geprioritiseer, en tydens sy ampstermyn was daar ’n duidelike verbetering in Gold Fields se veiligheidsgeskiedenis.
“Terselfdertyd is omgewings-, maatskaplike en bestuurskwessies volledig geïntegreer in die daaglikse bestuur van die onderneming, wat Gold Fields se visie van wêreldwye leierskap in volhoubare goudmynbou verder versterk.
“Namens die direksie en al ons 17 000 werknemers wens ons hom sterkte toe, want hy neem ’n welverdiende blaaskans.”