Gold Fields gaan by sy laaste oorblywende myn in Suid-Afrika ’n sonkragstasie van 40 megawatt (MW) oprig nadat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) die lisensie daarvoor toegeken het.

Die South Deep-goudmyn in Gauteng is Gold Fields se laaste myn in die land. Foto: International Mining
Gold Fields sê in ’n Sens-verklaring die bouproses van die kragstasie kan nou begin.
Die sonkragstasie sal 20% van die South Deep-myn se energie kan verskaf en verseker dat bedrywighede dikwels sal kan voortduur wanneer beurtkrag toegepas word.
Nersa moet tans nog goedkeuring gee en lisensies toeken vir enige organisasie of ondernemings wat sy eie krag wil opwek as dit meer is as 1 MW. Dis ’n langdurige en duur proses.
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, asook pres. Cyril Ramaphosa, het onlangs herbevestig dat die regering dit oorweeg om die drempel vir ’n Nersa-lisensie tot 50 MW te verhoog.
Dit sal dit aansienlik makliker vir organisasies maak om minder energie-afhanklik van Eskom te word, met redelike groot kragprojekte wat dan van stapel gestuur kan word sonder die langdurige proses met Nersa.
Nersa se uitvoerende hoof moet nou nog net Gold Fields se lisensie bekragtig en dan sal Gold Fields begin met die projek.
Nick Holland, uitvoerende hoof van Gold Fields, sê: “Die sonkragaanleg sal die betroubaarheid en bekostigbaarheid van kragtoevoer na South Deep verhoog, wat uiteindelik die langtermynvolhoubaarheid van die myn sal verbeter.
“Die goedkeuring van die lisensie stuur ’n sterk, positiewe boodskap aan mynmaatskappye en hul beleggers, wat moontlik kan lei tot die neem van besluite om mynboubedrywighede in die land te onderhou en te laat groei, veral in diepvlak-, ondergrondse, marginale myne.
“Deur ondernemings in staat te stel om hul eie krag op te wek, bied dit Eskom ook ruimte om bedryfsprobleme in sy kragstasies uit te sorteer.”
Gold Fields se energiedoelstellings is gegrond op vier pilare: Energie moet betroubaar, beskikbaar, koste-effektief en skoon wees – wat ’n verskuiwing na selfopwekking met behulp van hernubare energiebronne bevorder.
“Ons is daartoe verbind om ons bydrae tot netto nul-emissies te lewer,” sê Holland.
Gold Fields het reeds daarin geslaag om in Australië, waar regulasies nie so streng is nie, twee hernubarekragaanlegte by twee van sy myne te bou, en beoog om nóg twee te bou by myne daar.