Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Goud-afleggings: Solidariteit wys vinger na Amcu

Solidariteit meen die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het werkers in die voet geskiet met die langdurige staking by die beleërde Sibanye-goudmyne. Derduisende mense word nou deur afleggings in die gesig gestaar.

ideon du Plessis is die hoofsekretaris van Solidar
Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit.

Sibanye-Stillwater se Beatrix- en Driefontein-goudmyn het Donderdag met ’n formele konsultasieproses begin wat tot 6 678 mense (800 van hulle is kontrakteurs) hul werk sal kos tensy omkeerplanne dringend geïdentifiseer kan word.

Die maatskappy sê in ’n Sens-verklaring oorlegpleging met vakbonde het amptelik begin ingevolge art. 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Die mynskagte wat geraak word, is Beatrix 1, en skag 2, 6, 7 en 8 van Driefontein.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is dié proses die uiteinde van rampspoedige salarisonderhandelinge wat al sedert Junie 2018 duur.

Du Plessis verduidelik dat Solidariteit betrokke was met die aanvanklike onderhandelinge, maar dat Amcu die proses belemmer het.

Solidariteit, Uasa (voorheen bekend as die United Association of South Africa) en die National Union of Mineworkers (NUM) het ná drie maande se intensiewe onderhandelinge teen einde 2018 ’n loonooreenkoms met Sibanye onderteken in die hoop dat dit werksverliese sou beperk of voorkom.

Du Plessis sê dit is betreurenswaardig dat Amcu se bekwame onderhandelaars ná drie maande se onderhandelinge vervang is deur nuwe onderhandelaars, wat glad nie die volhoubaarheid van die goudbedryf en veral van Sibanye in ag wou neem nie. Volgens hom het hulle “duidelik ’n verskuilde agenda” gehad.

“Die uiteinde was ’n vernietigende staking wat al sedert 21 November 2018 aan die gang is,” sê Du Plessis.

Volgens Du Plessis het die leierskap van Solidariteit en NUM ná die aanvang van die staking vir Amcu gemaan om nie te staak nie weens die katastrofiese gevolge wat dit vir alle werkers sal inhou.

“Ons pleidooie het op dowe ore geval, en die hartseer ironie is dat dit nou hoofsaaklik Amcu-lede is wat die hardste deur die afleggings getref gaan word.”

Die Sibanye-skagte wat deur die afleggings geraak word, word hoofsaaklik deur Amcu-lede beman. Die werknemers het al meer as drie maande se salaris verloor.

“As die vermenigvuldigingsfaktor van ’n gemiddeld van 10 afhanklikes per mynwerker gebruik word, het Amcu nou derduisende onskuldige mense in armoede gedompel. Benewens die werkverliese is daar reeds ’n groot aantal mense vermoor en tientalle huise afgebrand wat direk met die staking verbind kan word,” sê Du Plessis.

Solidariteit het in sy verklaring ’n beroep op Amcu se leierskap gedoen om nie “saam met Eskom die grootste vernietiger van werk in die mynbedryf te word nie” en die staking tot ’n einde te bring.

“Die vakbonde in die mynbedryf sal nou eerder sy aan sy moet sit om tydens die afleggingskonsultasies te poog om alternatiewe en oplossings op die tafel te plaas om afleggings te voorkom, of ten minste te beperk.”

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Neal Froneman  |  Gideon Du Plessis  |  Beatrix-Myn  |  Driefontein  |  Amcu  |  Afleggings  |  Myne  |  Goudmaatskappye  |  Num  |  Mynbou  |  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Goudmyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.