Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Goud bars deur $2 000/fynons, rand op agtervoet
Goud verhandel teen meer as $2 000 per fynons. Foto: Argief

Goud het die laaste paar dae geskitter, terwyl die rand al verder teruggesak het.

Die goudprys het Dinsdagaand vir die eerste keer deur die vlak van $2 000 per fynons gebreek.

Dit het daarna die pas gehandhaaf en teen ’n rekordprys van $2 031,14 verhandel, voordat dit effens teruggesak het.

Vroeg Woensdagoggend verhandel die edelmetaal teen $2 012,86 per fynons.

Die goudprys het sedert 1 Januarie met byna 33% gestyg.

Bloomberg berig dat die styging toegeskryf kan word aan beleggers wat verwag dat regerings wêreldwyd nóg hulppakkette gaan aankondig om die Covid-19-pandemie te bekamp, die opbrengs op Amerikaanse effekte wat steeds daal en toenemende geopolitieke risiko's.

Waar die Goldman Sachs-groep nog laat in Julie voorspel het dat die edelmetaal moontlik voor die einde van die jaar deur die $2 000 per fynons-vlak kan breek, het hy nou sy vooruitsig aangepas.

Die bank sê dit kan waarskynlik binnekort tot $2 300 per fynons styg.

Waar goud ’n skitterende dag beleef het, sukkel die rand steeds om kop bo water te hou teenoor veral die dollar en die Britse pond.

Die rand verhandel Woensdagoggend teen R17,32 teenoor die dollar.

Die geldeenheid het sedert Vrydag 63c teenoor die dollar teruggesak.

Bloomberg berig ’n groot rede vir die rand se treurmare is dat die dollar die afgelope week wêreldwyd verstewig het.

Die styging wêreldwyd in die getal mense met die koronavirus en die toenemende spanning tussen Amerika en China, plaas verder druk op die geldeenheid.

Die rand het ook teruggesak teenoor die Britse pond en die euro.

Woensdagoggend verhandel dit teen R22,67 teenoor die pond en R20,46 teenoor die euro.

Die swak rand kan dalk slegte nuus wees vir Suid-Afrikaanse verbruikers, maar dit is baie goeie nuus vir die land se goudprodusente. Veral omdat die dollarprys vir dié edelmetaal nou so hoog is.

In randterme het die goudprys nou tot R34 882,98 per fynons gestyg. Dit is meer as R2 000 duurder as ’n week gelede.

’n Kilogram goud kos nou sowat R1,12 miljoen.

Suid-Afrika se platinumprodusente glimlag waarskynlik ook breed.

Hoewel dié metaal nog nie naby rekordvlakke verhandel nie, styg dit sedert Maart.

Platinum verhandel Woensdagoggend teen $932,50 per ons.

In randterme beloop dit R16 108,39 per ons, of R517 896,78 per kilogram.

goud

Meer oor:  China  |  Vsa  |  Goudprys  |  Covid-19  |  Platinum  |  Rand  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.