RioZim het produksie by sy drie goudmyne gestaak nadat Zimbabwe se Reserwebank nie die buitelandse valuta kon voorsien wat die maatskappy nodig het om in bedryf te bly nie.

Die Zimbabwiese Reserwebank se gebou in Harare. Foto: Bloomberg
Dit is die tweede keer sedert Oktober dat RioZim produksie opskort. Dit is die jongste aanduiding van hoe ondernemings in die land sukkel om aan die gang te bly te midde van die gebrek aan buitelandse valuta.
RioZim sê hy het produksie gestaak nadat die sentrale bank nie ’n belofte gestand gedoen het dat goudprodusente 55% van hul uitvoerverdienste in sogenaamde nostro-rekeninge kan hou en om uitvoer-aansporings aan hulle te gee nie.
Nostro is ’n bankterm wat daarna verwys dat ’n entiteit deur sy plaaslike bank ’n rekening in ’n buitelandse geldeenheid het by ’n bank in die land wat daardie buitelandse geldeenheid gebruik.
“Dit het ’n groot invloed gehad op die volhoubaarheid van die maatskappy se bedrywighede,” het die Harare-gesetelde RioZim gesê in ’n verklaring wat Vrydag in die koerant NewsDay gepubliseer is.
“Die huidige staking van bedrywighede het ’n wesenlike invloed op die maatskappy se prestasie.”
John Mangudya, hoof van die Reserwebank, was nie Vrydag beskikbaar vir kommentaar nie.
Mynbou is Zimbabwe se grootste bron van buitelandse valuta. Naas Suid-Afrika het Zimbabwe die wêreld se grootste platinumreserwes en ook groot hoeveelhede chroom en ystererts.
RioZim het in 2017 meer as 2 ton goud geproduseer; bykans 10% van Zimbabwe se totale produksie.
– Bloomberg