Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
GRAFIKA: Covid-19 by myne skiet op

Daar is nou 527 Suid-Afrikaanse mynwerkers wat positief vir die koronavirus getoets is.

Dis ’n styging van meer as 500% sedert die Mineraleraad van Suid-Afrika op 22 Mei – sowat twee weke gelede – die eerste keer syfers bekend gemaak het oor die verspreiding van die virus in die land se myne.

Toe was daar nog net 85 mynwerkers wat die virussiekte opgedoen het. Daar is ook steeds net een mynwerker wat aan Covid-19 dood is.

myne

Suid-Afrikaanse mynmaatskappye tree proaktief op om werkers te toets. Hulle het teen 4 Junie reeds 226 796 werkers vir simptome ondersoek. Dit is net meer as die helfte van die totale arbeidsmag van 450 000. Uit dié werkers is 7 461 vir die virus getoets.

Wanneer die totale arbeidsmag in ag geneem word, is minder as 1% van die werkers positief vir die virus getoets.

Die meeste gevalle is steeds by goudmyne in Gauteng, gevolg deur platinummyne in Noordwes en Limpopo.

Dr. Thuthula Balfour, hoof van gesondheid van die Mineraleraad van Suid-Afrika, sê die sektor hou by sy beleid om eers werkers vir simptome te sif voordat daar besluit word om werkers te toets.

“Ons weet daar is steeds mense wat vra hoekom die myne nie al die werkers toets nie,” sê sy.

“Om dit in perspektief te stel: Sedert die uitbreking van die virus in die land is 785 979 mense landwyd getoets. Daar is sowat 450 000 mense wat in die mynbousektor werk. Landwyd is daar dus selfs teen nou nie eens twee keer soveel mense getoets as wat daar in dié sektor werk nie.”

Sy bevestig dat AngloGold Ashanti besluit het om wel ál sy werkers by sy Mponeng-goudmyn in Gauteng vir die virus te laat toets. Daar het 196 werkers by dié myn positief getoets.

Mynwerkers by AngloGold Ashanti se Mponeng-goudmyn in Gauteng waar 164 werkers voorheen positief vir die koronavirus getoets is.Foto: Argief

Balfour het saam met ander amptenare van die Mineraleraad Donderdag ’n aanlyn gesprek met die media gevoer oor die jongste stand van sake in die sektor.

Nikisi Lesufi, verantwoordelik vir omgewing, gesondheid en erfenisse by die Mineraleraad, sê een van die groot uitdagings op vlak 3 van die staat van inperking gaan wees om werkers wat burgers van naburige lande is terug te bring werk toe. Hy sê die raad se lede het aangedui hulle wil sowat 9 500 werkers van naburige lande gedurende die tweede week van Junie terugbring.

Die werkers sal vir 14 dae in kwarantyn geplaas word voordat hulle begin werk. Die onderskeie myne sal die kwarantyngeriewe verskaf, terwyl die departement van gesondheid die nodige siftings en toetse sal doen.

Lesufi het bevestig dat werknemers eers in hul eie lande siftingstoetse sal ondergaan voordat hulle toegelaat sal word om die land in te kom. Hy sê verder dat die meeste van die werkers van Lesotho en Mosambiek kom.

Balfour sê daar is tans geen myn wat weens die virus gesluit is nie.

Meer oor:  Mineraleraad Van Suid-Afrika  |  Koronavirus  |  Mynboubedryf  |  Covid-19  |  Inkomste  |  Ekonomie  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.