Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Groot energiedroom vir Wes-Rand
Besoedelde mynbougrond op die Wes-Rand, soos dié wat tans deur Sibanye gerehabiliteer word, kan in die toekoms gebruik word om biobrandstof op te wek.
Ou mynbougrond wat reeds deur Sibanye in die Wes-Rand gerehabiliteer is en met inheemse gras beplant is.

Die verlate stukke mynbougrond aan die Wes-Rand waar selfs gras sukkel om te groei, kan oor ’n dekade die basis van ’n florerende bio-energie bedryf word.

Dit is die plan van verskeie belange groepe wat die Nywerheidsontwikklingskorporasie (NOK), die Britse hoëkommissariaat, die Merafong-munisipaliteit en Promethium Carbon insluit.

Die span het Vrydag hul planne tydens ’n voorlegging by die NOK se kantore in Sandton bekend gemaak.

“Ons hoop om oor tien jaar van nou ’n projek wat die eerste in sy soort in die wêreld gaan wees, op dreef te hê waar ons ou mynbougrond gebruik om gras te kweek wat dan weer verbrand word om energie te verskaf,” verduidelik Christiaan de Jager, ’n stads-en-streekbeplanner by die munisipaliteit.

Hy reken dit sal wel miljarde rande kos om ’n nywerheidspark soortgelyk aan die by Coega in die Oos-Kaap naby Merafong (Carletonville) te ontwikkel, maar dit sal die moeite werd wees om nuwe lewe vir die plaaslike ekonomie te gee.

“Mynwese was op vele maniere goed en sleg vir die Wes-Rand. Hoewel dit die gebied voorheen baie gehelp het, sit ons nou met probleme soos suur mynwater, verplaaste trekarbeiders en besoedelde grond.

Ons hoop om oor tien jaar van nou ’n projek wat die eerste in sy soort in die wêreld gaan wees, op dreef te hê.
Christiaan de Jager

“Met hernubare energie wat deel van die staat se toekomsplan vir Suid-Afrika vorm, het ons ’n geleentheid gesien vir hierdie projek. Deur elektrisiteit aan die plaaslike gemeenskap te verskaf kan ons ook help om die ekonomie weer op dreef te kry,” sê De Jager.

Wat die span beplan, is om grond wat nie vir landboudoeleindes gebruik kan word nie, met inheemse grasse te beplant, wat later in ’n nywerheidspark wat hoofsaaklik van hernubare energie gebruik maak, verbrand word. Die ondernemings in die park maak dan van dié energie gebruik en nie van die nasionale kragnetwerk nie.

Houtskool

Robbie Louw, die stigter van Promethium Carbon.

Die projek sal glo soveel as 2 MW elektrisiteit en sowat 2 019 ton houtskool per jaar genereer.

Die houtskool kan deur plaaslike entrepreneurs in brikette verwerk word en verkoop word.

“Ons huur tans grond wat deur die goudmynmaatskappy Sibanye beskikbaar gemaak is,” sê Robbie Louw, stigter van Promethium Carbon.

Sibanye het in Augustus aangekondig hy gaan
R9,6 miljard bestee om ’n sentrale verwerkingsaanleg aan die Wes-Rand te bou wat mynuitskot sal verwerk.

Sibanye bedryf ook ’n landbouprojek naby Wes­ton­aria saam met Gold Fields waar plaaslike inwoners geleer word om te boer.

Oor die vraag of die grond wat vir die biobrandstof gebruik gaan word nie eerder vir landbou gebruik kan word nie, erken Louw in die geval van hul toetsprojek die gebied wel geskik sou wees vir landbou.

“Die toetsgebied is baie na aan bestaande infrastruktuur wat ons vir die nywerheidspark kan gebruik en dit vergemaklik navorsing. In die toekoms wil ons egter juis fokus op grond wat nie vir landboudoeleindes gebruik kan word nie,” sê hy.

Britse steun

Tom Moody van die Britse hoëkommissariaat.

Tom Moody van die Britse hoëkommissariaat sê Brittanje wil veral met bekende vennote, soos Suid-Afrika, saamwerk nou nadat hy besluit het om die Europese Unie te verlaat. “Ons welvaartsfonds wil veral spesialisgebiede, soos hernubare energie, help ondersteun om só ekonomiese groei aan te help. Suid-Afrika is Brittanje se grootste handelsvennoot in Afrika en samewerking maak dus baie sin,” sê hy.

Die span hoop om teen November vanjaar ’n voorlopige ondersoek na die haalbaarheid van die projek te voltooi.

Volgens Promethium Carbon sal die projek deur 'n mengsel van ekwiteit, skuld en konsessionêre finansiering gefinansier word. Skuldfinansiering sal verkry word van plaaslike instellings soos die NOK, die Ontwikkelingsbank en handelsbanke. Die lening sal terugbetaal word met wins uit die verkope van elektrisiteit en houtskool.

Nikisi Lefusi van die Kamer van Mynwese sê die gebruik van verlate of onbruikbare grond is al lank ’n vraagstuk en die Merafong-projek wys wat die moontlikhede behels.

Meer oor:  Sibanye  |  Nok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.