Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gupta-myn kry wéér nuwe koper
’n Steenkoolmyn soortgelyk aan Koornfontein.Foto: Unsplash

Black Royalty Minerals (BRM) sê hy is nou die gekose koper van die Guptas se Koornfontein-steenkoolmyn.

Die myn in Mpumalanga behoort aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources, ’n filiaal van Oakbay Ivestments.

Die myn is tans in sakeredding. Dit het tot onlangs steenkool aan Eskom gelewer, maar werkers het in November 2018 laas ’n salaris ontvang.

Netwerk24 het verlede week berig die Suid-Afrikaanse myngroep Lurco is krediteure se gekose koper van die myn.

Dit sou egter afhang daarvan of Lurco die ooreengekomde bedrag van R500 miljoen betyds kon lewer.

Volgens Louis Klopper, sakeredder wat reeds in 2018 by Koornfontein aangestel is, was BRM krediteure se tweede keuse sou die transaksie met Lurco deur die mat val.

Lurco kon nie betyds die geld lewer nie; BRM het reeds die nodige fondse beskikbaar.

Krediteure het Lurco aanvanklik gekies omdat sy aanbod hoër was.

BRM het Dinsdag bevestig dat sy aanbod finansiering uit verskeie oorde behels, insluitend ’n kredietfasiliteit van Standard Bank.

Die mynbougroep moet voor Vrydag aan bepaalde vereistes voldoen voordat die transaksie kan voortgaan.

BRM besit reeds die Chilwavhusiku-steenkoolmyn in Bronkhorstspruit en is deel van die Makole-groep, ’n onderneming wat verskeie eiendomme ontwikkel.

Ndavhe Mareda, uitvoerende hoof van Makole, sê in ’n verklaring BRM se kennis van steenkoolmyne het ’n bydrae gelewer in sy suksesvolle bod om Koornfontein te koop.

Mareda glo dat Koornfontein binne die eerste drie maande van 2020 weer kan begin steenkool lewer.

Volgens Klopper gaan die sakereddingsplan vir die Optimum-myn na verwagting voor die einde van die maand gepubliseer word.

Dié myn behoort ook aan die Guptas en is ook bankrot.

Klopper sê daar word verwag dat Oakbay gekant sal wees teen die sakereddingsplan.

“Ons sal nie verbaas wees as daar ’n aansoek om ’n interdik téén die sakereddingsplan by die howe ingedien gaan word nie.”

Meer oor:  Brm  |  Lurco  |  Staatskaping  |  Mynbou  |  Mineraleraad  |  Steenkoolmyn  |  Koornfontein  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.