Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gupta-myn staan bakhand by Eskom
Werkers by die Optimum-myn naby Middelburg, Mpumalanga, staan reg om weer te werk. Hulle het in Januarie gestaak omdat hulle nie betaal is nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die platsak Eskom is glo bereid om sy steenkooltarief vir die Guptas se Optimum-myn meer as te verdubbel om die myn te red.

Die sakeredders van die Optimum-myn het in die afgelope week hul reddingsplan ingedien waaroor belanghebbendes nou moet stem.

Volgens dié plan het Eskom se prokureurs reeds aangedui die kragverskaffer is moontlik bereid om voortaan tot R450 per ton te betaal eerder as die R200 wat hy tans betaal.

Boonop wil Optimum se redders hul lewering aan Eskom van 400 000 ton per maand tot 200 000 ton verminder sodat die verskil teen baie beter tariewe uitgevoer kan word. Daar word duidelik gemaak die grondslag en steunpilaar van die plan is dat Eskom bereid sal wees om sy aanspraak op steenkool te halveer en sy tarief sal verdubbel.

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het aan Rapport gesê Eskom het nog nie die sakereddingsplan onder oë gehad nie. Hulle is wel in samesprekings met Optimum se sakeredders oor die kontrak, maar dis te gou om te sê of hulle gaan instem tot die gewysigde kontrak.

Eskom is tussen twee vure.

Hy moes die afgelope week die energiereguleerder inlig dat sy steenkoolvoorraad by sewe van sy kragstasies tot onder die vereiste vlak van 20 dae se voorraad gedaal het, met winter om die draai.

7,9 miljoen ton

Die Koornfontein-myn en Optimum-myn, twee van Suid Afrika se belangrikste steenkoolmyne, lewer 7,9 miljoen ton steenkool aan Eskom per jaar.

Terselfdertyd het Eskom so ’n ernstige likiditeitskrisis om onder meer steenkool te koop en salarisse te betaal dat hy nou al geruime tyd probeer om R20 miljard daarvoor te leen.

Die Optimum-myn lewer steenkool aan die 2 000 MW-Hendrina-kragstasie en die Koornfonteinmyn aan die 1 000 MW-Komati-kragstasie. Tans is dié twee myne die enigste verskaffers.

Phasiwe sê noodplanne word opgestel om steenkool van ander myne af na dié twee stasies te herlei.

Hy wou nie reageer op die vraag of Eskom die voorgestelde prysverhoging kan bekostig nie en net gesê hulle praat met die sakeredders oor die probleem.

Die prys van steenkool by die Optimum-myn is nie ’n nuwe twispunt nie. Dit is ’n 40-jaar-kontrak wat in Desember verval.

Eskom betaal wel reeds R430 per ton vir steenkool van die Koornfontein-myn, wat ook onder sakeredding is.

Optimum se vorige eienaar, Glen­core, het ook gesê die ou Eskom-kontrak wurg hom dood, en saam met boetes wat Eskom gehef het, het die myn op die rand van bankrotskap gestaan. Dit het vir die Gupta-maatskappy Tegeta Exploration and Resources die weg gebaan om die myn te koop.

Nog ’n moontlike kinkel in die sakereddingsplan is die betrokkenheid van Vitol, die wêreld se grootse onafhanklike oliehandelaar.

Optimum is van plan om die 200 000 ton wat van Eskom weggevat gaan word, teen ’n baie hoër prys aan Vitol te verkoop, maar Vitol wil eers bewyse sien dat Eskom bereid is om saam te speel.

Dan is daar nog die vraagstuk van boetes. Eskom het in Januarie ’n boete van R800 miljoen aan Optimum opgelê toe hy nie die nodige steenkool kon lewer nie. Dit was weens ’n staking omdat lone nie betaal is nie.

Die sakeredders reken egter daarop dat die boetes eers aan die einde van die sakereddingsproses, wanneer die myne verkoop word, opgeëis gaan word. Indien Eskom instem tot die plan, sal hy dus ook nie in die nabye toekoms dié kontant inkry nie.

Phasiwe sê die boete, asook ander moontlike toekomstige boetes, sal beslis verhaal word.

  

Dalk nog wins vir staatskapers

  

Eskom se Hendrina-kragstasie, waaraan die Optimum-myn steenkool lewer. Foto: Bloomberg

Die Guptas kan nog ’n wins uit die Optimum-myn maak indien die sakeredding slaag. Volgens die sakereddingsplan word gereken die myn kan vir R2,4 miljard verkoop word wanneer dit eers reggeruk is.

Die Guptas se Tegeta Exploration and Resources het in 2015 R2,15 miljard vir dié myn betaal.

In 2012 het die Switserse maatskappy Glencore nog R8,6 miljard daarvoor betaal. Glencore het dit onder geweldige druk aan die Guptas verkoop nadat Eskom geweier het om ’n boete van R2,15 miljard te heroorweeg. Eskom het kort daarna vir die Guptas 75% afslag op die boete gegee.

Optimum bestaan uit twee myne, die Koornfontein- en Optimum-myn, asook ’n uitvoerkwota van 6,5 miljoen ton by Richardsbaai.

Die sakeredders het nie veel hoop vir die Koornfontein-myn nie. Volgens hul berekeninge sal die myn se krediteure niks kry as die myn nou gelikwideer word nie, maar wel 10 sent in die rand as dit op die ope mark verkoop word.

Oor Optimum is die sakeredders meer optimisties. Dié myn het in 2017 ’n wins van R3 miljard gemaak, maar die sakeredders glo die wins is nie aangewend om die myn te herkapitaliseer nie.

Hulle beveel aan dat ’n diepere ondersoek begin word oor waarheen die winste gevloei het.

Volgens die sakeplan kan die Optimum-myn in die volgende 12 maande 50 miljoen ton uitvoersteenkool lewer teen R1 000 per ton. Dit sal die myn in staat stel om R200 miljoen per maand te maak. Daar word geraam dat dit ongeveer R400 miljoen sal kos om die Optimum-myn weer ten volle aan die gang te kry.

Rapport het vroeër berig Burgh Group Holdings (BGH) sal albei myne vir minstens ’n jaar bestuur en sal ’n persentasie van die wins kry as hy dit weer winsgewend kan maak.

Optimum sou vroeër vir R2,97 miljard aan ’n Switserse maatskappy, Charles King, verkoop word, maar die sakeredders het die transaksie stopgesit omdat hulle dit wantrou en die Reserwebank ook alarm gemaak het. Die vermoede was die Guptas sit op ’n manier agter Charles King, wat geen mynbou-agtergrond het nie.

Kurt Knoop, een van die sakeredders, het aangedui dat 30 potensiële kopers reeds belang stel in die myn. Een van hulle is Glencore. Dié maatskappy wil glo saamwerk met die swartbemagtigingsgroep Pembani.

Meer oor:  Optimum  |  Vitol  |  Glencore  |  Tegeta  |  Eskom  |  Guptas  |  Duduzane ­Zuma  |  Kurt Knoop  |  Koornfontein  |  Steenkool  |  Kragstasies  |  Elektrisiteit  |  Krag  |  Steenkoolkontrakte  |  Nersa  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.