Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gupta-myne: NUM eis regering moet ingryp

Die National Union of Mineworkers (NUM) betoog Woensdag voor die Uniegebou en gaan ’n memorandum oorhandig om die regering te vra om die Gupta-maatskappy Tegeta se Optimum- en Koornfontein- steenkoolmyn oor te neem.

Die myne is in sakeredding.

Lede van die NUM verlede jaar in ’n betoging by die hoofkantoor van Gold Fields in Sandton, Johannesburg. Die vakbond beplan om Woensdag ’n memorandum aan die regering te oorhandig oor die situasie by die Optimum- en die Koornfonteinsteenkoolmyn. Foto: Mpumelelo Buthelezi

Mynwerkers by dié myne is laas in Oktober betaal, sê die NUM in ’n verklaring. Die vakbond het vroeër vandeesmaand gesê sy lede het nog in November en Desember gewerk, maar is gevra om nie in Januarie vir werk aan te meld nie.

Die NUM beweer die sakeredders het probeer om agteraf betalings te kry en het nie die korrekte prosesse gevolg in die opstel van hul sakereddingsplan nie.

Tshilidzi Mathavha, streeksekretaris van die NUM in die Hoëveld, sê die regering moet alle opsies oorweeg om die myne oop te hou en poste te beskerm. Een opsie is dat die regering dit oorneem deur die staatsbeheerde mynmaatskappy African Exploration. “Ons kan nie ly terwyl die regering daar is nie,” sê Mathavha.

Die NUM en die vakbondfederasie Cosatu gaan die memorandum Woensdag oorhandig om hul kommer te lug oor die invloed van staatskaping op werkers.

Die NUM eis dat die honderde betrokke werkers se agterstallige lone dadelik betaal word.

Die sakereddingsplan behels dat die myne en hul belang in die Optimum-steenkoolterminus aan Project Halo, ’n Suid-Afrikaanse konsortium, verkoop word.

Die sakeredders sê Project Halo het die nodige kapitaal en finansiële ondersteuning van die Australiese Macquarie Bank en is die beste opsie om likwidasie af te weer.

Die sakeredders sê die vermyding van likwidasie bly hul top-prioriteit.

Die NUM sê egter hy het vertroue in die sakeredders verloor. Hy sê in ’n verklaring wat op 7 Januarie uitgereik is, dit het hom verras dat die sakeredders Project Halo gekies het om Optimum en Koornfontein oor te neem.

“Project Halo het geen finansiële spiere nie en het geen mynlisensie nie. Dit wys dat die sakeredders die krediteure ondermyn en al wat hulle wil hê, is om die onderneming verder te versmoor.”

Bewerings dat die sakeredders die geleentheid vir eie gewin uitbuit, is in April verlede jaar gemaak in ’n hofaansoek om die sakeredders te vervang.

Die hooggeregshof in Johannesburg het dié aansoek van Tegeta-direkteure afgewys.

Die aansoek is ingedien te midde van ’n regstryd oor die verkoop van Tegeta aan Charles King, ’n Switserse maatskappy met Gupta-bande. Die sakeredders het dié bewerings as “laster” en “karaktermoord” beskryf.

Meer oor:  Cosatu  |  Num  |  Tegeta  |  Steenkoolmyn  |  Mynbedryf  |  Gupta-Familie  |  Stakings  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.