Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Gupta-myne: Sakeredders spartel, werkers platsak

Terwyl die sakeredders van die Guptas se Koornfontein- en Optimum-steenkoolmyn Vrydag verder met Eskom onderhandel het oor sy voorgestelde sakereddingsplan, het die NUM gesê hy het vertroue in die sakeredders verloor.

Die Optimum-steenkoolmyn, wat in sakeredding is.

Die National Union of Mineworkers (NUM) sê hy is oortuig dat daar net een agenda op die tafel is en dit is om die myne te likwideer.

Hy sê sy lede by die myne is einde Oktober laas betaal terwyl hulle nog in November en Desember gewerk het.

“Nou het die sakeredders die onwettige opdrag gegee dat werkers nie vir werk moet opdaag nie, wat beteken dat hulle aan die einde van dié maand weer nie betaal sal word nie,” sê Tshilidzi Mathavha, streeksekretaris van NUM in die Hoëveld, in ’n verklaring.

Eskom, een van die myne se hoofkrediteure weens onder meer die boetes wat hy op die myne gehef het, het op 10 Desember op die laaste vergadering van krediteure en die sakeredders om uitstel gevra om die sakereddingsplan te bestudeer.

Vrydag het die sakeredders en Eskom weer hieroor vergader. Die sakeredders het vroeër die week in ’n verklaring gesê hulle is “optimisties dat dié vergadering die weg sal baan dat ’n vergadering met alle krediteure oor die volgende paar weke belê kan word om oor die voorgestelde sakereddingsplan te stem”.

Die plan behels dat die myne en hul belang in die Optimum-steenkool-terminus, aan Project Halo, ’n Suid-Afrikaanse konsortium verkoop word.

Luidens die gepubliseerde sakereddingsplan het Project Halo die nodige kapitaal en finansiële ondersteuning van die Australiese Macquarie Bank en is hy dus die beste opsie om likwidasie af te weer.

Hulle wys in hul verklaring daarop dat dit uiteindelik die myne se belanghebbendes is wat moet besluit of hulle die sakereddingsplan aanvaar.

Die NUM sê in sy verklaring hy “was verras dat die sakeredders Project Halo verkies het om Optimum en Koornfontein oor te neem. Project Halo het geen finansiële spiere nie en daarbenewens het hy geen mynlisensie nie. Dit wys dat die sakeredders die krediteure ondermyn en al wat hulle wil hê, is om die onderneming verder te versmoor.”

Ook die krediteure het al kommer uitgespreek oor die sakeredders se verbintenis tot die red van die onderneming.

In Desember het MiningMx berig oor ’n brief wat die krediteure aan die sakeredders gestuur het. Hierin word kommer uitgespreek oor die legitimiteit van Project Halo. Hulle meen dit lyk soos ’n frontmaatskappy. As dit waar is, sal Project Halo waarskynlik nie ’n mynlisensie van die departement van minerale bronne kry nie.

Meer oor:  Eskom  |  Project Halo  |  Guptas  |  Optimum  |  Koornfontein  |  Steenkoolmyn  |  Steenkoolkontrakte  |  Staatskaping  |  Sakeredding  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.