Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Guptas se Oakbay skuld huur van R2 m.
Die Optimum-steenkoolmyn wat tans in sakeredding is.

Sakeredders wat aangestel is om van die Guptas se ondernemings te probeer red, het ’n aansoek by die hof ingedien om Oakbay Investments te laat likwideer.

Oakbay is die moedermaatskappy van die Guptas en besit onder meer die mynmaatskappy Tegeta Resources and Energy.

Kurt Knoop, een van die sakeredders, het Dinsdag ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien wat lui dat Oakbay Tegeta meer as R2 miljoen skuld vir die huur van sy kantoor in Sandton.

Tegeta is een van sewe van die Guptas se maatskappye wat in Februarie in sakeredding geplaas is.

Luidens Knoop se beëdigde verklaring het Oakbay in Oktober 2013 ’n huurkontrak met Tegeta gesluit om kantoorruimte in Sandton teen R150 000 per maand by hom te huur.

Dié huur is die afgelope 12 maande nie betaal nie.

Tegeta doen nou aansoek dat Oakbay gelikwideer moet word sodat hy die R2 miljoen wat aan hom geskuld word, kan invorder.

Tegeta se prokureurs het op 27 Junie vanjaar ’n brief aan Oakbay gestuur en aangedring dat die huur betaal word.

Oakbay is drie weke gegun om óf die uitstaande bedrag te betaal, óf ’n reëling met Tegeta daaroor te tref.

In plaas daarvan om te betaal, het Oakbay se prokureurs op 10 Julie ’n brief gestuur waarin hy eis Tegeta moet ’n “bestuursfooi” vir die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn betaal.

“Die hoofbron van inkomste vir ons kliënt kom van onder meer bestuursfooie wat deur maatskappye wat in sakeredding is, betaal moet word,” lui die brief.

Daar word in die brief beweer dat die sakeredders se weiering om die geld te betaal ’n opsetlike poging is om “ons kliënt (Oakbay) ekonomies te wurg”.

“Nie ’n enkele maatskappy is in ’n beter posisie sedert jul kliënte (die sakeredders) aangestel het nie. U kliënte kan nie kla oor die vrug van hul konstruktiewe kwaadwilligheid teenoor ons kliënt nie.”

Dit lui verder Tegeta skuld Oakbay baie meer in bestuursfooie as wat hy hom in huur skuld.

Knoop wys daarop dat die bestuursfooie waarna verwys word na bewering deur Optimum en Koornfontein geskuld word. Albei die ondernemings is in sakeredding.

Dit lui nie dat Tegeta die geld skuld nie.

“Die respondent (Oakbay) het tot dusver nie die bedrag betaal nie, of weier om dit aan Tegeta te betaal,” sê Knoop.

“Ek is ook ingelig dat dit blyk die respondent nie in staat is om sy skuld te betaal soos deur die Maatskappyewet vereis word nie, en hy gelikwideer moet word.”

News24, verwerk


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.