Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Guptas se Optimum wéér in die mark
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Argief

Die proses om die Guptas se steenkoolmyne te verkoop, het weer van voor af begin.

John Taylor, van GoIndustry DoveBid, het aan Netwerk24 bevestig die Optimum- en Koornfontein-myn en die steenkooleindpunt by Richardsbaai is wéér in die mark.

Optimum is gekontrakteer om steenkool aan Eskom se Hendrina-kragstasie te lewer. Taylor het bevestig die myn is nie tans in bedryf nie.

Die sakeredders onder leiding van Louis Klopper het einde 2018 die konsortium Project Halo as die wenner van die bodproses vir die myne aangewys.

“Eskom het ons op 2 April genader en gevra ons moet die koopproses weer van voor af begin,” het Klopper in ’n onderhoud aan Netwerk24 bevestig.

“Dit is relatief frustrerend om weer te begin, maar dit lyk of daar nou dringendheid is om wel ’n koper te vind.”

Taylor sê egter Project Halo “het nie aan die voorwaardes voldoen nie” en die verkoopsproses het dus weer van voor af begin. Klopper sê Project Halo is meer as welkom om wéér ’n bod in te dien.

Volgens Taylor is GoIndustry DoveBid saam met Park Village Auctions deur die sakeredders aangestel om die proses te behartig.

“Daar was ’n behoefte om ’n onafhanklike party aan te stel om die verkoopsproses te behartig,” sê Taylor.

Hy sê Optimum se krediteure het nou ’n “streep in die sand getrek” en wil die myne so gou as moontlik verkoop.

Die spertyd vir die gestruktureerde verkoopsproses is 18 Junie.

“Partye wat belang stel om die bates te koop, moet verkieslik hul voorstelle teen 5 Junie indien,” sê Taylor.

Taylor sê sedert daar aanvanklik aangekondig is die myne is te koop, was daar reeds sowat 62 navrae daaroor.

“Hierdie navrae was óf net ’n telefoonoproep óf meer in-diepte-gesprekke,” sê hy.

Hy sê daar was net die afgelope naweek weer verskeie nuwe navrae deur moontlike kopers. Hy het geen inligting verskaf oor wie in die myne belangstel nie.

Taylor sê hy weet nog nie of die staat se mynmaatskappy, die African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), aan die proses gaan deelneem nie. AEMFC is ’n filiaal van die Sentrale Energiefonds.

John TaylorFoto: Verskaf

“Hulle is welkom om ook ’n bod in te dien,” sê hy.

AEMFC het vroeër vanjaar ingestem om ’n finansieringsooreenkoms van R1 miljard met Optimum te sluit.

Klopper het bevestig dat gesien die versoek om die verkoopsproses weer van voor af te begin, is dié transaksie nou gekanselleer.

Bouwer van Niekerk, die sakeredders se prokureur, het herhaaldelik daarop gewys dat dié ooreenkoms glad nie ’n koopkontrak is nie. Dit was bloot om werkers te betaal en die myn weer in bedryf te kan stel.

Van Niekerk het wel erken dit plaas die AEMFC in ’n baie goeie posisie sou die krediteure ’n koper moes kies.

Van Niekerk het voorheen verduidelik een van die redes dat die koopproses vertraag is, is ’n geskil tussen Eskom en Centaur Ventures oor wie die grootste krediteur is.

Centaur was die maatskappy wat die Guptas se Tegeta Exploration and Resources – wat tans steeds die myn besit – gefinansier het toe hy die myn by Glencore gekoop het.

Klopper het nou bevestig al die krediteure het tot ’n vergelyk gekom dat dit in belang van die myne is om eerder geskille buite die hof uit te klaar, en dat die verkoop van die myne die prioriteit moet wees.

Klopper sê hulle hoop om teen middel Julie al die aanbiedinge wat aan hul vereistes voldoen aan die krediteure voor te lê, waarna dié moet kies wie die myne sal koop.

Meer oor:  Optimum  |  Tegeta Exploration And Resources  |  Guptas  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.