Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Handelsoorlog sleg vir staalbedryf

’n Wêreldwye handelsoorlog sal die Suid-Afrikaanse staalbedryf beslis seermaak.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika.Foto: Elvira Wood

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa), sê hoewel Amsa self nog nie bekommerd is oor die invloed van pres. Donald Trump se invoertariewe op staal na die VSA nie, is hy baie bekommerd oor die invloed van ’n volskaalse handelsoorlog.

“Ons voer net sowat 70 000 ton staal per jaar na die VSA uit. Ons kan ’n ander huis hiervoor kry.

“Wat ons wel in die oog moet hou, is sou ander lande nie meer hul staal na die VSA uitvoer nie, hulle ander verkoopspunte vir hul produkte gaan soek.

“Dit kan problematies raak as hulle na Afrika, waar ons hoofsaaklik na toe uitvoer, begin kyk,” waarsku hy.

Verster is ook bekommerd oor die invloed wat ’n handelsoorlog op ekonomiese groei kan hê.

Die vraag na staal was reeds die afgelope halfjaar die laagste in nege jaar.

As ekonomiese groei verder deur ’n handelsoorlog onderdruk word, gaan dit aanvraag plaaslik, maar ook internasionaal, benadeel.

Verster sê staalinvoer vanuit China het die afgelope halfjaar met 31% gedaal. Daar is egter steeds sowat 392 000 ton staal in die eerste halfjaar na Suid-Afrika ingevoer.

“Ek dink die daling is deels weens tariewe wat gehef word, maar ook deels weens die laer aanvraag,” sê Verster.

Hy sê ook van die invoere is staalprodukte wat nie in Suid-Afrika vervaardig word nie.

Winsgewendheid

Amsa het groot planne om van vanjaar op ’n volhoubare grondslag winsgewend te bly.

As die maatskappy dit wel regkry om winsgewend te wees in die tweede helfte van sy boekjaar, sal dit die eerste keer in agt jaar wees dat hy vir ’n volle boekjaar winsgewend is.

Amsa het Woensdag bekend gemaak hy was op bedryfsvlak winsgewend in die eerste helfte van sy boekjaar, tot einde Junie. Dit was die eerste keer in ses jaar dat dit gebeur.

Amsa se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) het met ’n enorme R2,12 miljard – van ’n verlies van R534 miljoen tot ’n wins van R1,587 miljard – gestyg.

Lees ook: Amsa: Dís ons probleme met Eskom

Arbeidsmag

Verster sê Amsa het sy herstrukturering ingevolge art. 189 van die Arbeidswet afgehandel.

Sowat 400 personeellede het vrywillige skeidingspakkette of vervroegde aftrede aanvaar.

“Ons het niemand uit diens gestel nie,” sê hy.

Hy wou nie sê presies wat die invloed van beplande kostebeparings in die toekoms op sy arbeidsmag gaan wees nie.

Amsa wil oor die volgende vyf jaar sy koste met $50 per ton snoei.

Amsa het tans sowat 9 000 werknemers en 3 000 kontrakteurs in sy diens.

Daar is wel hoop dat hy oor die volgende vyf jaar weer gaan begin om sy arbeidsmag te groei, sê Verster.

Dit is nou te sê as hy met sy planne voortgaan om ’n nuwe elektriese boogoond by sy Vanderbijlpark-aanleg te bou.

Verster sê indien Amsa besluit om wel die boogoond te bou, sal dit ten minste nog vyf jaar duur voordat dit in bedryf gestel word.

Hy sê die aanleg moet self die oond kan bekostig – Amsa gaan nie geld daarvoor leen nie.

Amsa begin binnekort met ’n uitvoerbaarheidstudie hieroor.

Vester sê die maatskappy het tans geen planne om van enige van sy aanlegte ontslae te raak of om bedrywighede af te skaal nie.

Elektrisiteit

Die prys van elektrisiteit, veral by sy aanlegte in Saldanha in die Wes-Kaap en Newcastle in KwaZulu-Natal is ’n doring in Amsa se vlees.

Só ook beurtkrag – óf weens die huidige arbeidsonrus by Eskom óf weens munisipaliteite waar Amsa bedrywig is wat se krag weens skuld afgesny word.

Meer oor:  Amsa  |  Handelsooreenkoms  |  Handelsoorlog  |  Maatskappye  |  Staalbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.