Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Harmony Gold ly verlies, al verkoop hy meer goud
Harmony Gold se Moab Khotsong-goudmyn.Foto: Verskaf

Goeie produksiesyfers en verkope kon nie ’n enorme waardevermindering by Harmony Gold teenwerk om te keer dat hy ’n verlies ly nie.

Die maatskappy, wat Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer het, het ’n verlies van R4,473 miljard gely teenoor die wins van R362 miljoen ’n jaar tevore.

Harmony het ’n waardevermindering van R5,3 miljard op sy boeke aangebring weens Tshepong, Target 1, Joel, Kusasalethu, Unisel, Masimong, Doornkop en die Target-Noord se eiendom wat nog nie ontwikkel is nie.

Harmony sê die vermindering is gegrond op die ouderdom van die myne, sy vooruitsig dat goud teen sowat $1 250 per fynons gaan verhandel en die invloed van inflasie.

Buiten vir die waardevermindering sê hy sy verlies kan verder toegeskryf word aan die R669 miljoen waarmee sy skuld in dollar gestyg het weens verandering in die wisselkoers asook laer afgeleide winste van R99 miljoen teenoor die R1,025 miljard van 2017 wat hy verdien het.

Sy wesensverdienste per aandeel het met 43% tot R1,71 gedaal teenoor ’n jaar tevore.

Sy inkomste het wel met 6% tot R20,359 miljard gestyg.

Goudverkope het met 6% tot 37 692 kg gestyg.

Hy het boonop gemiddeld 6% méér, of te wel $1 380 per fynons, vir sy goud verdien.

Veiligheid

Harmony Gold sê 13 werkers is in die boekjaar by sy bedrywighede dood.

Ses van die werkers is sedert Januarie vanjaar dood, waarvan vier weens grondstortings gesterf het.

Harmony sê hy sal die Minerale Raad van Suid-Afrika se veldtog ondersteun om veiligheidsdae by alle myne te hou.

Daar is op 17 Augustus met die veldtog begin. Dit volg nadat daar vanjaar reeds 58 werkers in Suid-Afrikaanse myne dood is.

Peter Steenkamp, uitvoerende hoof van Harmony, sê ongeag die verlies wat die maatskappy nou gely het, is hy baie positief oor die toekoms.

“Ons groeivooruitsig om 1,5 miljoen fynons goud per jaar te lewer en die kwaliteit van ons bate portefeulje te verbeter het ’n hupstoot gekry ná ons herbelegging in Hidden Valley in 2017 en die verkryging van Moab Khotsong in 2018.

“Hierdie bedrywighede sal jaarlikse produksie met tussen 450 000 en 500 000 fynonse verhoog teen ’n gemiddelde koste van $950 per fynons vir die leeftyd van die myne,” sê hy.

Harmony het ook van sy goudverkope verskans om hom teen wisselvallige wisselkoerse en die goudprys te beskerm.

Harmony het Moab Khotsong in Februarie 2017 vir $300 miljoen by AngloGold Ashanti gekoop.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Mynboubedryf  |  Mynbou  |  Goudmyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.