Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
‘Hartseer’ dat laaste Anglo-goudmyn in die mark is

Die goudprodusent AngloGold Ashanti se plan om van sy laaste Suid-Afrikaanse myn ontslae te raak, wys die land se goudbedryf het gesneuwel, sê David Shapiro, adjunkvoorsitter van Sasfin Securities.

AngloGold se onttrekking aan Suid-Afrika kan ’n aanduiding wees dat die maatskappy sy primêre notering na Londen of Toronto wil skuif.

“Dit is nogal hartseer. Ek het aangename herinneringe aan Suid-Afrika as die hulpbronsetel van die wêreld,” het Shapiro aan Bloomberg gesê ná AngloGold se aankondiging Donderdag dat hy sy Mponeng-myn, die diepste myn ter wêreld, wil verkoop.

Hy wil nou elders fokus op projekte met groter opbrengste.

Die maatskappy se goudproduksie in Suid-Afrika het verlede jaar tot 487 000 onse gedaal, van 903 000 onse in 2017.

Sedert hy in September verlede jaar die leisels oorgeneem het, fokus Kelvin Dushnisky, uitvoerende hoof van AngloGold, op bedrywighede met ’n langer leeftyd en laer koste. Hy het voorheen reeds aangedui AngloGold se myne in Argentinië en Mali gaan verkoop word.

As die Mponeng-transaksie beklink word, sal dit ’n einde maak aan die Suid-Afrikaanse bedrywighede van Anglo American, die maatskappy wat die sakeman Ernest Oppenheimer in 1917 op die been gebring het.

Niemand sal ooit geld bestee soos Anglo nie. Hulle het meer geld die land ingebring as enige ander belegger. Dit is hartseer.
Peter Major, mynboukenner

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, het gesê in die regte omstandighede sal Sibanye belang stel in ’n transaksie met AngloGold.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê Anglo se besluit is nie ’n verrassing nie, maar dit is nogtans teleurstellend dat die maatskappy beter groeigeleenthede buite Suid-Afrika uitgewys het en dat werkers nou in onsekerheid gedompel is.

Hy sê die volgende eienaar sal ’n bewese geskiedenis moet hê en die kundigheid en kapitaal moet hê om die myn vir sy oorblywende leeftyd – wat 37 jaar of meer kan wees – suksesvol te bestuur.

Shapiro het ook in ’n twiet gesê AngloGold se onttrekking aan die land is simbolies van die einde van ’n era waarin Suid-Afrika eens een van die wêreld se roemryke goudprodusente was. “Soveel van ons ekonomiese en politieke geskiedenis sal saam met hom verdwyn. Dit is tyd om ’n nuwe plan te formuleer.”

Peter Major, ’n mynbou-ontleder van Mergence Corporate Solutions, sê Anglo het van die Suid-Afrikaanse goudbedryf gemaak wat dit is. “Niemand het die professionaliteit gebring wat Anglo gebring het nie, niemand sal ooit geld bestee soos Anglo nie. Hulle het meer geld die land ingebring as enige ander belegger. Dit is hartseer.”

Suid-Afrika se goudmyne het oor die jare al hoe gevaarliker geword en die bedryfskoste hoër omdat daar so diep gemyn moet word.

In syfers

Die bedryf is nou minder as een vyfde so groot soos op sy hoogtepunt. In 1970 was die land die wêreld se grootste goudprodusent met 1 000 ton. Teen 2017 het dit tot sowat 140 ton gedaal.

Die goudbedryf het nou sowat 100 000 werkers in diens, maar die druk waaronder die land se goudmynmaatskappye is, kan nog werkverliese beteken.

Die maatskappy het die laaste paar jaar ander myne verkoop en gesluit weens verliese.

Dushnisky het Donderdag gesê die planne om Mponeng te verkoop, is in ’n vroeë stadium.

Dushnisky het kort ná die aankondiging gesê daar is geen spertyd vir die transaksie nie. Hy sal kopers met finansiële en tegniese kennis in Suid-Afrika oorweeg en het reeds met die regering en vakbondverteenwoordigers vergader.

Bronne na aan die proses het aan Bloomberg gesê AngloGold se onttrekking aan Suid-Afrika kan ’n aanduiding wees dat die maatskappy sy primêre notering na Londen of Toronto wil skuif.

Dushnisky het Donderdag gesê die maatskappy beplan om sy notering op die JSE te behou, maar daar is ’n opsie om die primêre notering te skuif.

Anglo se onttrekking aan die plaaslike mynbedryf het in 1998 begin toe hy sy onafhanklike goudfiliale in AngloGold saamgevoeg het. In 2004 het hy al hoe vinniger buite Suid-Afrika begin uitbrei toe hy Ghana se Ashanti Goldfields bekom het. Vandag bedryf hy myne op vier vastelande.

JPMorgan Chase & Co. het in April gesê as AngloGold Mponeng wil behou, sal hy sowat $1 miljard moet belê om die myn se huidige leeftyd van agt jaar te verleng. Bloomberg

Meer oor:  Anglo American  |  Anglogold Ashanti  |  Ernest Oppenheimer  |  Kelvin Dushnisky  |  Oppenheimers  |  Mponeng  |  Mynbou  |  Goudmyne  |  Goudmaatskappye  |  Goudmyn  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.