Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Hof hoor aansoek aan teen Gupta-myn se sakeredders

Daar was geen rede om die kontrak waarvolgens die maatskappy Charles King die Guptas se Tegeta Exploration & Resources sou koop, te kanselleer nie, het die hooggeregshof in Pretoria Woensdag gehoor.

Charles King het ’n dringende interdik by die hof ingedien om Tegeta se sakeredders te dwing om hul dispuut oor die kontrak na arbitrasie te verwys.

Adv. Piet Louw, SC, het namens Charles King gesê die sakeredders het nie die reg gehad om die kontrak te kanselleer nie.

Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Twitter

“Julle het nooit kennis gegee dat julle dit kanselleer nie, so julle kon dit nie doen nie, al het julle gedink julle kan.

“Boonop het julle saam met die minister gewerk om te verseker my kliënt voldoen nie aan die vereistes soos wat in die kontrak uiteengesit is nie.”

Kurt Knoop en Louis Klopper is op 19 Februarie aangestel as sakeredders van Tegeta, die Optimum- en die Koornfonteinmyn en vier ander maatskappye wat aan die Guptas behoort.

Hoewel die sakeredders reeds in April aangekondig het hulle kanselleer die koopkontrak, word die dringende interdik nou eers gevra omdat die sakeredders ’n uitnodiging gerig het dat ander moontlike kopers hul belangstelling kan toon.

Charles King het op 22 Augustus 2017 ’n kontrak gesluit om die myne vir R2,97 miljard te koop. Amin Al-Zarooni is die enigste direkteur van dié maatskappy.

Lees ook: ‘Charles King-transaksie vir Guptas se Optimum ’n klug’

Deposito

Die dispuut tussen Charles King en die sakeredders wentel daarom dat Charles King nie betyds die volle bedrag van R66,7 miljoen as deposito betaal het nie.

Die maatskappy het op 21 September verlede jaar R64,4 miljoen betaal.

Louw sê eerstens het die wisselkoers ’n invloed gehad op die randbedrag wat betaal is.

“My kliënt het $5 miljoen betaal. Maar daar is aangedring hy die volle R66,7 miljoen moes betaal.

“My kliënt het probeer om die uitstaande bedrag te betaal, maar die transaksie is om die een of ander rede geweier. Ons weet nie hoekom nie,” sê Louw.

Hy sê Charles King en die Guptas het toe ooreengekom dat die uitstaande R2 miljoen as deel van die finale koopbedrag betaal sou word.

Louw het beswaar gemaak dat “die sakeredders my kliënt se R64 miljoen wil hou, maar nie kontrak wil nakom nie”.

Minister

Louw sê dit is duidelik dat die sakeredders na Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, gehardloop het en vertroulike inligting uit die kontrak met hom gedeel het.

“Hulle het só seker gemaak dat Charles King nie goedkeuring kragtens art. 11 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne kry nie.

“Hulle het dit reggekry om die minister te oortuig om my kliënt in die openbaar ’n skurk te noem.”

Mantashe het op 10 April op ’n platinumkonferensie in Johannesburg gesê hy het die sakeredders beveel om Optimum “nie aan daardie skurke te gee nie”.

Regter Segopotje Mphahlele hoor die saak aan.

Adv. Greg Wickins, SC, verteenwoordig die sakeredders.

Die aansoek duur voort.

Meer oor:  Charles King  |  Optimum  |  Tegeta  |  Kurt Knoop  |  Guptas  |  Louis Klopper  |  Interdik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.