Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Hof moet besluit oor Optimum-sakeredders
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Twitter

Die hooggeregshof in Pretoria sal Dinsdag ’n dringende aansoek aanhoor om die sakeredders van die Optimum-steenkoolmyn, wat aan die Guptas behoort, te vervang.

Luidens ’n beëdigde verklaring deur Andile Qaku, die enigste direkteur van ’n maatskappy genaamd Deriko Mining and Exploration, is die twee sakeredders – Kurt Knoop en Louis Klopper – wat in Februarie aangestel is niks meer nie as “Gupta-pionne” wat net doen wat hul base sê.

Knoop en Klopper ontken hierdie bewerings in hul verklaring.

Deriko wil hê die hof moet Knoop en Klopper met Jacobus van Rensburg en Jacolien Barnard vervang.

Andersins wil hy hê die hof moet Optimum in voorlopige of selfs finale likwidasie plaas.

Qaku beweer die aanstelling van die sakepraktisyns was onwettig.

Hy sê die direkteure van ’n maatskappy kan nie ’n resolusie aanvaar om in sakeredding te gaan as daar reeds met ’n likwidasieproses begin is nie.

Qaku sê ’n resolusie om die maatskappy te likwideer is twee uur voor die resolusie om in sakeredding te gaan ingedien.

Hy sê daar was dus ’n hangende aansoek om likwidasie.

Qaku sê daar is nog ’n aansoek om likwidasie gedoen twee weke voordat die aansoek om sakeredding ingedien is.

‘Institusionele bedrog en diefstal’

Qaku bevraagteken ook die onafhanklikheid van die sakepraktisyns.

Hy verduidelik hoekom die Guptas nie vertrou kan word nie en verwys onder meer na die openbare beskermer se verslag oor staatskaping.

Qaku sê die Optimum-steenkoolmyn “was fundamenteel ’n instrument vir institusionele bedrog en diefstal deur die Gupta-familie”.

Hy sê ook die sakeredders is nie behoorlik gedistansieer van die ondernemings nie.

Een van die redes wat hy hiervoor gee, is dat agt van die Guptas se ondernemings gelyktydig in sakeredding geplaas is.

Ajay (links) en Atul Gupta. Foto: Muntu Vilakazi

Hy sê die Guptas gebruik hul talle sakebelange vir onderlinge geldvloei en dat hulle as een sentrale kern van bedrywighede funksioneer.

Qaku sê deur al agt die maatskappye te verteenwoordig, tree die sakeredders as krediteure én debiteure vir dieselfde maatskappye op.

Agterdog oor gedeelde adres

Qaku sê die twee praktisyns het “reeds hul ware kleure gewys deur skuldeisers wat likwidasie-aansoeke bring wat nie wettig is nie ten koste van ander skuldeisers te betaal”.

Hy gee die voorbeeld van twee skuldeisers wat eise ingedien het en wat betaal is terwyl ander skuldeisers maande reeds nog nie betaal is nie.

Ritchie Crane Hire het ’n eis van R4 miljoen en Edsha ’n eis vir R10,4 miljoen ingedien.

Qaku sê die sakeredders is aangestel om die maatskappye teen eise teen hulle te beskerm terwyl hulle na die Guptas luister.

Hy sê Knoop se adres, wat dieselfde is as dié van Optimum se prokureur Smith Sewgoolam – wat ’n kantoor in Pietermaritzburg het – wys hoe naby hy aan die ondernemings is.

Qaku sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ook bevind dat Sahara Computers, wat ook aan die Guptas behoort, bande met PC Zone het.

PC Zone is in 2013 in sakeredding geplaas.

Sewgoolam was die prokureur in dié saak en Knoop die sakeredder.

Qaku sê die feit dat Knoop en Klopper ’n kantoor met Optimum se prokureur deel, wys daar is ’n goeie kans dat hulle nie onafhanklik is nie.

Qaku wil ook weet watter bankrekeninge die sakeredders gaan gebruik omdat die Bank of Baroda die land gaan verlaat.

‘Dopmaatskappy geskep vir litigasie’

Knoop sê in ’n verklaring dat hy nie genoeg tyd gehad het om op al die beweringe te reageer nie.

Hy sê die hof behoort nie die aansoek as dringend te beskou nie.

Knoop bevraagteken ook Deriko se eise teen Optimum.

Volgens hom het Deriko glo ’n beweerde eis wat Bakone Technical Services and Supplies teen Optimum het, gekoop.

Knoop sê Deriko het geen locus standi voor die hof nie.

Knoop sê Deriko is ’n rakmaatskappy wat eers in Januarie geregistreer is en wat blykbaar uitsluitlik vir hierdie litigasie geskep is.

Hy wil weet wie die aandeelhouers in die maatskappy is en wie vir die litigasie betaal.

Knoop meen die partye glo dalk hulle kan die onderneming koop as nuwe sakepraktisyns aangestel word.

Hy ontken dat die likwidasie-aansoeke voor die aansoek om sakeredding ingedien is. Hy sê hy is nie bewus van die aansoeke nie.

Oor die bewering dat hy ’n pion vir die Guptas is, sê Knoop die aansoeker “maak op spekulasie, veronderstelling en afleiding staat om te beweer dat die reddingspraktisyns aangestel is om te doen wat die Guptas wil hê”.

Hy sê hierdie bewerings is lasterlik, dat Optimum onder die arendsoë van die media was en dat onder sulke omstandighede dit onwaarskynlik is dat hulle as die Guptas se pionne sou optree.

Hy sê die bewerings dat hulle ’n kantoor met Optimum se prokureur gedeel het en dat hulle in die verlede skakels met die Guptas gehad het, is ongegrond.

Nog aansoekers verwag

Qaku sê Deriko Mining het ’n kontrak met Bakone vir ’n arbeidsmakelaarsdiens.

Optimum was voorheen in sakeredding en is aan “ ’n groep skurke” verkoop, sê hy.

Ruann Kruger, prokureur vir Deriko, het aan News24 gesê nog vier of vyf partye sal by hul aansoek Dinsdag in die hof aansluit om seker te maak die sakeredders wat aangestel word, is onafhanklik.

Barnard, Deriko se keuse as sakeredder, het Maandag bevestiging van Nedbank ontvang dat hy ’n administratiewe rekening vir die doel van sakeredding sal oopmaak.

Kruger sê dit is belangrik aangesien die huidige sakeredders nog nie gesê het watter bank hulle gebruik nie. – Fin24

Meer oor:  Nedbank  |  Optimum  |  Outa  |  Louis Klopper  |  Kurt Knoop  |  Sakeredding  |  Steenkoolmyn  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.