Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Hofuitspraak kan 'einde van mynbou' beteken
ELB Group, konstruksiemasjinerie
Die mynboubedryf kan inkrimp dankry 'n nuwe hofuitspraak. Foto: Verskaf

’n Hooggeregshofuitspraak kan die “einde van mynbou” in Suid-Afrika beteken omdat myne voortaan by gemeenskappe moet toestemming kry voordat hulle minerale op kommunale grond mag ontgin.

Luidens die uitspraak van regter Annelie Basson in die hooggeregshof in Pretoria mag gemeenskappe nie van hul grond ontneem word sonder hul toestemming nie. Konsultasie alleen is dus nie voldoende nie.

Dit is ingevolge die Wet op Tussentydse Beskerming van Informele Grondreg (IPILRA), wat luidens die uitspraak saam met die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) gelees moet word.

Dit geld spesifiek grond in kommunale besit, waar die oorgrote meerderheid van nuwe aansoeke vir ontginning ingedien word.

Voorheen het mynmaatskappye slegs voorskrifte in die MPRDA gebruik, wat bepaal dat gemeenskappe geraadpleeg moet word.

“Nuwe mynbedrywighede gaan hierdeur beëindig word,” sê Allan Reid, ’n direkteur van die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr. “Dit is uiters nadelig vir mynbou in Suid-Afrika.” Hy weet reeds van twee kliënte wie se finansiering vir nuwe myne in die weegskaal is weens die uitspraak.

Reid sê dit is nie die gevestigde myne wat geraak word nie, maar nuwe myne. Die implikasie is dat mynbou nie gaan groei nie en nuwe werksgeleenthede nie geskep gaan word nie.

Volgens Reid kan gemeenskappe mynmaatskappye weens die uitspraak “afpers”. “Hulle het nou die reg om ’n aansoek te laat stilstaan totdat daar aan hul eise voldoen is.”

Die uitspraak volg op ’n uitspraak in Oktober in die konstitusionele hof wat mynmaatskappye verplig om nie met ’n tradisionele leier wat beweer hy verteenwoordig ’n gemeenskap te onderhandel nie, maar eerder met die spesifieke lede van die gemeenskap wat die grond benut.

“Die probleem is ’n mens weet nie altyd met wie om te praat nie, want daar is faksies in die gemeenskap wat baklei oor wie gekonsulteer moet word.”

Die probleem is ’n mens weet nie altyd met wie om te praat nie, want daar is faksies in die gemeenskap wat baklei oor wie gekonsulteer moet word.
Allan Reid

Bruce Dickinson, ’n vennoot by die regsfirma Webber Wentzel, sê mynmaatskappye het nou “ ’n vuurwapen teen hul kop” omdat gemeenskappe die maatskappye kan verhoed om minerale te ontgin.

“Konsultasie was nooit net ’n eenrigtinggesprek nie. Die idee was nog altyd dat jy tot ’n vergelyk kom. Maar nou het gemeenskappe ’n vetoreg.”

Die risiko vir beleggers verhoog aansienlik, sê hy. In die verlede kon hulle beleggers “uit die Ooste” gerusstel en sê mynregte troef oppervlakregte. “Daar was vertroosting daarin, maar nou word dit weggekalwe.”

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het vroeër die week aan City Press gesê hy oorweeg dit om teen die uitspraak te appelleer.

Hy sê as die reg om oor ontginningslisensies te besluit van die regering na die gemeenskap verskuif word, gaan “geen mynbou meer plaasvind nie”.

Die uitspraak word egter ook verwelkom as ’n stap in die regte rigting om die regte van die armste mense in Suid-Afrika te beskerm.

Volgens dr. Aninka Claassens, ’n kenner van grondreg aan die Universiteit van Kaapstad, is daar bewyse dat mynbou rampspoedige gevolg het vir landelike gemeenskappe. “Min tot geen konsultasie vind plaas met die mense wie se regte regstreeks geraak word en min tot geen vergoeding word betaal aan mense wie se lewensmiddele deur mynbou verwoes word.” Die “armste mense met die minste mag” betaal vir die koste van ontginning, terwyl “enorme winste” uit hul grond gemaak word.

Sy sê Mantashe en prokureurs wat myne verteenwoordig is “oneerlik” as hulle sê om gemeenskappe die reg te gee om “nee” te sê gaan die einde van mynbou beteken.

Dit is omdat sowel die IPILRA as die MPRDA steeds vir onteiening van grondregte voorsiening maak indien gemeenskappe nie toestemming gee nie – mits dit in die belang van ekonomiese transformasie is om die grond te onteien.

“Onteiening is egter moeite, aangesien dit tot nou standaardpraktyk was om tradisionele leiers te betaal en te begin ontgin eerder as om te onderhandel en die koste te bereken van die effek van mynbou op mense se lewensmiddele.”

Onteiening beteken ook die howe sal die proses monitor, wat insluit dat daar bepaal gaan word of ontginning in die openbare belang is. “Heeltemal te veel mynregte word toegestaan aan mense wat op kort termyn daaruit wil voordeel trek ten koste van permanente skade aan lewensmiddele en hulpbronne soos water.”

Hoe duur kan dit wees om oop kaarte te speel en aan mense ’n aanbod te maak wat aantreklik genoeg is vir hulle om langs ’n myn te wil woon?
Anika Claassens

“Hoe duur kan dit wees om oop kaarte te speel en aan mense ’n aanbod te maak wat aantreklik genoeg is vir hulle om langs ’n myn te wil woon?”

Die uitspraak kom nadat ’n Australiese mynmaatskappy, Transworld Energy ’n Mineral Resources (TEM), aansoek gedoen het om die titaanryke sand in ’n gedeelte van Umgungundlovu aan die Wildekus te ontgin.

Die gebied strek oor sowat 2 859 ha tot sowat 1,5 m van die hoogwatermerk af.

Die applikante se huise is daar en hulle gebruik die grond vir weiding en om gewasse te plant.

Die applikante het die hof gevra om te beslis dat die minister van minerale bronne nie mynregte aan TEM kan toestaan sonder dat die individue wat daar bly toestemming gee nie.

Die applikante sê egter dit is nie onmoontlik dat daar wel uiteindelik ’n mynlisensie toegestaan kan word nie. As dié lede van die gemeenskap wat deur die mynbedrywighede benadeel word vergoeding gewaarborg word wat vergoed vir hul verlies, kan hulle toestemming gee.

Meer oor:  Mynbou  |  Gemeenskappe  |  Mynboubedryf  |  Hofuitspraak  |  Mynbedrywighede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.