Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Hulpbronne: Wie wen en wie verloor?
Die verwagting is dat die goudprys tot $2 000 per fynons kan styg. Foto: Argief

Watter hulpbronne kon die afgelope ses maande kop bo water hou en watter nie? Watter behoort die storm van die Covid-19-pandemie goed te weerstaan en watter gaan vir die res van vanjaar nog onder druk wees?

Met die tweede helfte van die jaar wat dié week begin, probeer beleggers besluit hoe die toekoms gaan lyk. Infeksies staan wêreldwyd nou op meer as 10 miljoen en met meer as 500 000 mense wat dood is, is die Covid-19-pandemie die dodelikste in die moderne era. Boonop is daar nog geen teken daarvan dat dit onder beheer gebring word nie.

Groot gebeure gedurende die tweede helfte van die jaar, wat ’n invloed op markte behoort te hê, is die Amerikaanse presidensiële stryd tussen Donald Trump en Joe Biden, die optrede van sentrale banke en in hoe ’n mate die Chinese ekonomie van die pandemie kan herstel.

Olie

Olie het die onstuimigste tydperk in die geskiedenis van dié mark gedurende die eerste helfte van 2020 ervaar.

Die olieprys het reeds in Maart weens ’n prysoorlog in die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote ineengestort. Dit het daarna verder gedaal toe die koronavirus wêreldwyd uitgebreek het.

In Amerika het handelaars betaal om hul ruolie weg te gee toe termynkontrakte in April tot minus $40 per vat gedaal het. Twee maande later het die prys egter weer tot $40 per vat bestyg.

Gedurende die tweede helfte van die jaar sal die olieprys daarvan afhang of daar toenemende brandstofgebruik is soos wat ekonomieë oopmaak óf dat dit moontlik weer daal weens ’n toename in infeksies.

Dit sal ook deur die aanbod oorheers word. Opul en sy vennote gaan genoeg dissipline moet toon wat produksie betref. Daar is reeds sowat ’n miljard vate olie wat opgegaar is.

Vroeg Maandagoggend verhandel olie teen $40,22 per vat.

Goud

Goud was in die eerste helfte van die jaar ’n opvallende wenner.

Die goudprys het met 17% gestyg sedert die begin van die jaar en teen die hoogste vlak in meer as sewe jaar verhandel. Daar word verwag dat die goudprys vir die res van die jaar sal bly styg.

Die wêreldwye gesondheidskrisis het beleggers die heeltyd na veilige beleggingshawens laat stroom. Belange in beursverhandelde fondse het tot ’n rekord geswel, met ’n netto invloei van meer as 600 ton.

Hoewel die beleggingsvraag te midde van negatiewe reële Amerikaanse rentekoerse sterk bly, is fisieke verbruik ingetrek en die herstel sal na verwagting stadig wees.

Die Australia & New Zealand Banking Group voorspel egter dat die goudprys voor die einde van die jaar tot meer as $1 900 per fynons kan styg. Goldman Sachs voorspel dat die goudprys binne die volgende 12 maande tot meer as $2 000 per fynons sal styg.

Capital Economics en UBS Group is egter skepties oor óf pryse aanhoudend tot nuwe rekordhoogtes sal styg.

Goud het vroeg Maandagoggend teen $1 772,98 per fynons verhandel.

Koper

Die prys van koper het sedert ’n laagtepunt in Maart reeds met sowat 30% gestyg.

Selfs met tekens van ’n herlewing in virusgevalle wat die markte opkikker, glo ontleders dat daar nog ruimte vir dié prys is om te styg. Jefferies LLC dink byvoorbeeld dat daar te min koper in die mark beskikbaar is, ondanks inperkings. Baie myne werk steeds met verminderde personeel te midde van die pandemie, voorraad val en skroot is skaars. Met voorraad wat min is, is daar boonop wêreldwyd stimuleringsmaatreëls en ’n groter vraag na dié metaal vanuit China.

Dit help alles om die metaal wat in motors en elektronika gebruik word, ’n gunsteling onder ontleders te maak.

Koper het vroeg Maandagoggend teen $5 985,50 per ton verhandel.

Ystererts

Die trajek waarteen ystererts verhandel, lyk soos die roete van ’n wipwarit.

Ondanks die pandemie en die wêreldwye resessie wat die pryse van die meeste nywerheidskommoditeite onder druk geplaas het, het die prys van ystererts vanjaar goed gestyg tot meer as $100 per ton. Die verwagting is egter dat die prys weer gaan daal.

Morgan Stanley voorspel dat daar weer ’n ooraanbod van ystererts in die tweede helfte van die jaar op die mark wees. Die verwagting is dat die prys weer tot sowat $80 per ton sal daal.

Ystererts verhandel vroeg Maandagoggend teen $103,23 per ton.

– Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Olie  |  Ystererts  |  Goud  |  Hulpgronne  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.