Impala Platinum (Implats) gaan oor die volgende twee jaar 13 000 van sy werknemers by sy myn in Rustenburg laat gaan.
Dit sluit permanente werknemers en kontrakteurs in.

Een van die skagte by Implats se Rustenburg-myn. Foto: Bloomberg
Die maatskappy het dié aankondiging Donderdag gedoen as deel van sy strategie oor hoe om die myn weer winsgewend te maak. ’n Nuuskonferensie word ook om 09:00 hieroor gehou.
Implats se direksie het die plan Woensdagnag goedgekeur nadat ’n uitgebreide ondersoek gedoen is na die myngroep se finansiële probleme.
Implats sê hy gaan oor die volgende twee jaar skagte sluit wat naby die einde van hul leeftyd is of onekonomies is om te bedryf. Hy gaan vyf van die 11 skagte by die Rustenburg-myn sluit.
Sy verwagte produksie van platinumgroepmetale gaan daarna van 750 000 fynons per jaar tot 520 000 fynons daal.
Die maatskappy glo hy sal daardeur sy bedryfskoste van R25 100 per fynons aan die einde van die 2017-boekjaar tot minder as R22 000 per fynons in die 2021-boekjaar verlaag.
Implats sê hy verwag die herstrukturering gaan hom sowat R2,7 miljard kos. Dit sal gedurende die 2019- en 2020-boekjare in sy finansiële state ingesluit word.
Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, sê: “Die enigste keuse vir konvensionele produsente is om bedrywighede wat ’n verlies ly heeltemal te herstruktureer.
“Hoewel werknemer-rasionalisering onvermydelik is in ’n herstruktureringsproses van dié aard, sal die nodige sorg geneem word om te verseker dat werksverliese so ver as moontlik deur ’n verskeidenheid van vermydingsmaatreëls verminder word,” sê hy.
Implats sê die myn het hom die afgelope paar jaar net geld gekos. Dit het negatiewe kontantvloei getoon en kontant van ander bronne moes gebruik word om vir die ontwikkeling van die 16- en 20-skag te betaal.