Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats-afleggings gaan Rustenburg erg knou

As Impala Platinum (Implats) 13 400 mense aflê, gaan dit ’n “verwoestende” uitwerking op die ekonomie van Rustenburg, Noordwes, hê.

Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats.Foto: Elvira Wood

Dit is Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, se erkentenis nadat hy Donderdag aangekondig het hy gaan vyf van die 11 skagte by sy Rustenburg-myn oor die volgende twee jaar toemaak ten einde die maatskappy meer volhoubaar te maak. Dit gaan tot 13 400 mense hul werk kos.

Noordwes is reeds die provinsies met die tweede hoogste uitgebreide werkloosheidskoers in die land, op 43,4%. Uitgebreide werkloosheid sluit almal van werkende ouderdom in wat geen grondige rede het waarom hulle nie werk, studeer of aktief werk soek nie, en sluit lantermynwerkloses in.

Implats sê hy het egter geen keuse as om ’n enorme herstruktureringsplan van stapel te stuur om te red wat te redde is by die myn nie.

“Ons kan nie net stilsit en kyk hoe die myn doodgaan nie. Ons moet nou iets doen,” het Muller Donderdagoggend ná ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Muller sê hoewel hy reeds sy planne met vakbonde bespreek het, verwag hy nog heelwat onderhandelinge.

“Daar is geen manier dat vakbonde en die regering opgewonde gaan wees oor die planne om te herstruktureer nie.

“Dit sal verkeerd wees om aan te neem dat daar enige ondersteuning van werksverliese sal wees, en ons verstaan dit.

“Ons het reeds met Joseph Mathunjwa, president van Amcu, hieroor gesprekke gevoer. Ons het dit ook met alle vorige soortgelyke prosesse gedoen.”

Daar is ook gemiddeld 200 mense wat elke maand by ons myne bedank. Ons wil dus sien hoe ons dié posisies kan vul met mense wat reeds vir ons werk.
Nico Muller van Implats

Amcu het die grootste verteenwoordiging by die myn.

Muller sê gesprekke tot dusver het veral daarop gefokus oor wat Implats kan doen om werksverliese so laag as moontlik te hou, asook wat gedoen gaan word om werknemers op te lei om aan hulle nuwe vaardighede te gee sodat hulle makliker ander werk kan kry.

Joseph Mathunjwa van Amcu. Foto: Jabu Kumalo

Die 13 400 mense sluit permanente werknemers en kontrakteurs in.

Dit sluit nie die 2 100 werkers in wat Implats reeds gedurende die 2018-boekjaar uit diens gestel het nie.

Muller verduidelik dat hy sowat 1 500 werkers gedurende die 2019-boekjaar gaan aflê. Dié werkers werk nie noodwendig in spesifieke skagte nie.

Proses

Muller sê die maatskappy het reeds kennisgewings ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge hieroor aan alle betrokke partye gestuur.

“Daar moet onthou word net omdat ons die kennisgewing gestuur het, beteken nie ons gaan al die mense definitief aflê nie. Dit beteken ons gaan nou die gesprek daaroor begin.”

Werkers by die skagte wat sluit, sal veral geraak word.

“Ons gaan kyk waar ons mense van die ou skagte wat ons gaan sluit, na die nuwes kan skuif.

“Daar is ook gemiddeld 200 mense wat elke maand by ons myne bedank. Ons wil dus sien hoe ons dié posisies kan vul met mense wat reeds vir ons werk.”

Afleggings by die onderskeie skagte sal ook luidens art. 52 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) geskied.

Uitwerking

  • Implats se verwagte produksie van platinumgroepmetale gaan daarna van 750 000 fynons per jaar na 520 000 fynons daal.
  • Die maatskappy glo hy sal daardeur sy bedryfskoste van R25 100 per fynons aan die einde van die 2017-boekjaar tot minder as R22 000 per fynons in die 2021-boekjaar verlaag.
  • Implats sê hy verwag die herstrukturering gaan hom sowat R2,7 miljard kos. Dit sal gedurende die 2019- en 2020-boekjare in sy finansiële state ingesluit word.

Implats se aandeel het Donderdagoggend ná die aankondiging met meer as 3% tot R19,90 op die JSE gestyg.

Meer oor:  Implats  |  Joseph Mathunjwa  |  Rustenburg  |  Amcu  |  Afleggings  |  Platinum  |  Mynbou  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.