Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats begin met gesprekke oor afleggings

Impala Platinum (Implats) het begin met die herstrukturering waarin 1 500 werkers hul werk kan verloor.

Implats se myn buite Rustenburg. Foto: Bloomberg

Dit vorm deel van sy planne om oor die volgende twee jaar sy arbeidsmag in Rustenburg met 13 000 werkers te verminder. Dis reeds vantevore aangekondig, maar begin nou gestalte kry.

Die maatskappy sê Woensdag in ’n verklaring hy het met ’n art. 189-proses ingevolge die Arbeidswet by sy nr.1-skag begin.

Die plan is om dié skag teen April 2019 in ’n stand van sorg en onderhoud te plaas “soos per ons plan om te herstruktureer”.

Implats sê wel hy is besig om te kyk of hy nie ’n derde party kan kry wat bereid sal wees om die skag te bedryf nie.

Implats het in Augustus die eerste keer sy planne bekend gemaak om sy arbeidsmag drasties af te skaal.

Die maatskappy sê hy gaan oor die volgende twee jaar skagte sluit wat naby die einde van hul leeftyd is of onekonomies is om te bedryf. Hy gaan vyf van die 11 skagte by die Rustenburg-myn sluit.

Sy verwagte produksie van platinumgroepmetale gaan daarna van 750 000 fynons per jaar tot 520 000 fynons daal.

Die maatskappy glo hy sal daardeur sy bedryfskoste van R25 100 per fynons aan die einde van die 2017-boekjaar tot minder as R22 000 per fynons in die 2021-boekjaar verlaag.

Implats sê hy verwag die herstrukturering gaan hom sowat R2,7 miljard kos. Dit sal in die 2019- en 2020-boekjare in sy finansiële state ingesluit word.

Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, het voorheen gesê “hoewel werknemer-rasionalisering onvermydelik is in ’n herstruktureringsproses van dié aard, sal die nodige sorg geneem word om te verseker dat werkverliese so ver as moontlik deur ’n verskeidenheid van vermydingsmaatreëls verminder word.”

Implats sê marktoestande in die eerste kwartaal van die nuwe boekjaar het verbeter.

Die hoër dollarprys vir platinumprys en die swakker rand het beteken hy het R28 355 per ons platinum verdien. Dit is 14,2% méér as in die vorige kwartaal.

Dit is ook beduidend meer as die bedryfskoste van R22 000 per fynons waarvoor hy mik.

Meer oor:  Implats  |  Rustenburg  |  Herstrukturering  |  Afleggings  |  Platinum  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.